Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gautengers dalk só beboet as hulle nie e-tol betaal

Gautengers kan moontlik met R250 beboet word elke keer wanneer hulle onderdeur oorhoofse e-tol-hekke ry, indien hul e-tol-rekeninge nie betaal is nie, sê die DA in ’n verklaring.

Die bedrag is R500 vir groter voertuie.

Dié boete is volgens die regulasies van die Wysigingswetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) wat vroeër vandeesmaand deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig is.

e-tol, sanral
Die elektroniese tollenaars in die nag. Foto: Quickpic

’n Strafpuntstelsel word ingevolge dié wet ingestel, wat daartoe kan lei dat die rybewys van gereelde oortreders opgeskort kan word.

Luidens die DA se verklaring kan dié boetes sakeondernemings erg raak omdat vragmotorbestuurders hul werk kan verloor indien hul rybewys vir drie jaar opgeskort word omdat boetes nie betaal is nie.

“Motoriste wat ’n ligte motorvoertuig ry sal egter nie enige punte verloor nie, maar sal ’n boete van R250 opgelê word elke keer as hulle onderdeur ’n e-tol-hek ry. Die wet is net nog ’n manier om motoriste te dwing om vir e-tol te betaal.”

Rudie Heyneke, bestuurder van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) se vervoerportefeulje, het Maandag bevestig dat dit wel moontlik is dat motoriste dié boetes kan kry.

“Die (Aarto)-wet is onderteken en gepubliseer, maar dit is nog nie in werking nie. Daar is nog nie nuwe regulasies daarvoor geskryf nie.”

Heyneke sê die vorige regulasies is in 2015 gepubliseer. Daarin staan dat indien motoriste padtekens wat hulle aansê om tolgeld te betaal, ignoreer, hulle met R250 daarvoor beboet kan word.

Heyneke sê motoriste wat daagliks van Pretoria na Johannesburg ry, kan onderdeur tien e-tol-hekke ry.

Dit beteken motoriste kan in een dag ’n boete van R2 500 opbou.

“Dit is hoe sake in die huidige regulasies staan. Dit is moeilik om te bevestig of dié regulasies dieselfde gaan bly, want ons behoort nuwe regulasies te kry. Die minister behoort die regulasies te verander,” sê Heyneke.

Hy sê indien die regulasies nie gewysig word nie, gaan dit chaos veroorsaak omdat sommige motoriste met meer as 200 boetes ’n maand sal sit.

Indien hulle besluit om dit nie te betaal nie, kan hulle betoë daaroor rig. “Dit gaan ’n verskriklike administratiewe probleem veroorsaak. Daar is sowat twee miljoen motoriste wat nie e-tol betaal nie,” sê Heyneke.

Ayanda Allie-Paine, woordvoerder van die minister van vervoer, sê daar word gewerk aan die regulasies, waarna dit deur die minister bekragtig sal word.

“Daar is nog geen finale besluite geneem oor die aard van oortredings wat daartoe sal lei dat strafpunte afgetrek sal word nie.”

Die strafpuntstelsel kan ook veroorsaak dat sommige motoriste meer aan versekering gaan betaal.

Christelle Colman, ’n kenner van Old Mutual se versekeringsdienste, sê bestuurders met ’n slegte rekord kan moontlik hoër premies betaal, maar dit is gegrond op die diskresie van elke versekeringsmaatskappy.

Colman sê afhangende van hoe effektief die wet toegepas gaan word, kan goeie bestuurders moontlik beter premies beding en swak bestuurders kan gepenaliseer word.

* Gautengers sal teen die einde van die maand antwoorde kry oor die e-tol-stelsel in dié provinsie. Ramaphosa het vroeër vanjaar opdrag gegee dat Fikile Mbalula, minister van vervoer, Tito Mboweni, minister van finansies, en David Makhura, Gautengse premier, teen einde Augustus met ’n voorstel na die kabinet moet kom oor hoe die dooiepunt oor e-tol opgelos kan word.

Die tesourie het Maandag by navraag laat weet dat dié proses op dreef is.

“Die besprekings tussen die ministers van finansies en vervoer, asook die premier verloop goed. Die sperdatum van einde Augustus sal gehaal word om die voorstel aan die president te oorhandig,” het die tesourie in ’n amptelike antwoord laat weet.

Meer oor:  Aarto  |  Gauteng  |  E-Tol  |  Boete  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.