Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gautengers vaar strate, sentrums in om op te ruim

Gautengers het Sondag moue opgerol om gebiede wat in die onlangse onluste en plundery deurgeloop het, te help opruim.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag drie winkelsentrums in Soweto besoek. Sy besoek in sy hoedanigheid as ANC-president was deel van ’n opruimingsprojek ná die plundery en onluste in dele van Gauteng en KwaZulu-Natal. Foto: Raymond Willemse

Sommige vrywilligers het dit as deel van hul viering van Mandeladag gedoen.

Inwoners van Malvern, Johannesburg, het die strate ingevaar om rommel en gebrande buitebande te verwyder.

Esihle Mboyana, ’n inwoner en medestigter van die Malvern Clean-up and Rebuild-inisiatief, sê hy is oorstelp oor die optrede van die inwoners wat Sondag hul tyd opgeoffer het om hul gemeenskap op te ruim.

“Maar ons moenie net op Mandeladag ons buurte skoonmaak nie, dit moet dwarsdeur die jaar gebeur.

“Ons moet ook trots wees op ons gemeenskappe en nie toelaat dat so iets weer gebeur nie.”

Mboyana sê mense het selfs van so ver as Alberton gereis om te kom hand bysit.

“Dit is sulke optrede wat my weer hoop gee.”

By die Protea Glen-winkelsentrum het personeel, vriende en familie van die Legends Barbershop die winkelsentrum as deel van hul Mandeladag-inisiatief help opruim.

Die stigter van die Legends Barbershop, Sheldon Tatchell, sê hoewel hulle nie ’n tak in die winkelsentrum het nie, is dit belangrik om deel van die oplossing te wees.

Pres. Cyril Ramaphosa wuif vir die skare by die Ndofaya-winkelsentrum. Foto: Raymond Willemse

“Sowat 40 van ons het besluit om die winkelsentrum wat die afgelope week geplunder en beskadig is, op te ruim.

“As gemeenskap is dit belangrik om standpunt in te neem en op te staan vir dit wat reg is. Ons moet ook deel wees van die oplossing en saam ons gemeenskappe wat ’n knou weg het, herbou.”

In Alexandra en Doornkop, Soweto, het vrywilligers van die Scientology-kerk ook die strate ingevaar om dit op te ruim.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag in sy hoedanigheid as ANC-president drie winkelsentrums, Maponya, Jabulani en Ndofaya, in Soweto besoek as deel van ’n opruimingsprojek.

Opruiming het nog nie by Ndofaya en Jabulani begin nie.

By Ndofaya het hy deur die sentrum gestap en met belanghebbendes oor die omvang van die skade gepraat.

Ramaphosa het ’n oomblik van stilte gehandhaaf vir mense wat hul lewe die afgelope week verloor het. Tien mense is vroeër die week in ’n stormloop hier dood.

Hy het vir ’n fotogeleentheid ’n graaf geneem en daarmee rommel verskuif.

Daarna is hy na die Jabulani-sentrum wat ook erg deurgeloop het.

Pres. Cyril Ramaphosa praat met belanghebbendes by die Jabulani-winkelsentrum. Foto: Raymond Willemse

Ramaphosa se laaste besoek was aan die Maponya-sentrum. Dié sentrum is nie in die onluste beskadig nie, danksy lede van die gemeenskap wat dit ten spyte van gevaar teen plunderaars beskerm het.

Ramaphosa het die gemeenskap en veral die gemeenskapsleier Nhlanhla Lux vir hul optrede geloof.

Lux het aan Ramaphosa gesê hulle kon nie net toekyk hoe Soweto brand nie. “Dit was ses dae van hel. Van ons patrolleer steeds elke aand die winkelsentrum om dit veilig te hou. Maponya is die hartklop van Soweto se ekonomie.”

Ramaphosa het benadruk dit is nou ’n tyd om te herbou. “Dankie dat julle as ’n gemeenskap byeengekom het om te kom skoonmaak en as gemeenskap saam te staan en die plekke te beskerm wat werk skep en nie toe te laat dat ander van buite verkeerde dinge hier kom doen nie.”

Ramaphosa het bygevoeg dié gebeure het ook die land se mense saamgesnoer.

“Die mense van ons land is nou meer as ooit as Suid-Afrikaners verenig. Ons moet baie sterker hieruit kom. Ons sal nooit verslaan word nie.”

Vrywilligers besig om die Protea Glen-winkelsentrum op te ruim. Foto: Moonflare Production
Vrywilligers van die Legends Barbershop het as deel van hul Mandeladag-inisiatief die Protea Glen-winkelsentrum help opruim wat onder plundery en onluste deurgeloop het.Foto: Moonflare Production
Vrywilligers besig om die Protea Glen-winkelsentrum op te ruim. Foto: Moonflare Production
Meer oor:  Johannesburg  |  Plundery En Geweld  |  Mandeladag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.