Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Raaisel groot oor 'vrou met tien babas'

Maatskaplike werkers moet nog ’n Oos-Randse ma besoek wat glo aan tien babas die lewe geskenk het voordat die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling die opspraakwekkende voorval kan bevestig.

Feziwe Ndwayana, ’n woordvoerder van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling, sê maatskaplike werkers besoek Donderdag die ma, maar om veiligheidsredes wou Ndwayana nie sê waar nie.

Volgens Ndwayana is die ma steeds in die hospitaal.

Daar heers egter nog groot verwarring en die geboortes word steeds bevraagteken.

Dit kom nadat ’n joernalis van IOL glo voor die geboortes met Gosiame Thamara Sithole (37) by haar huis in Tembisa in Ekurhuleni gesels en Dinsdag eksklusief berig het haar babas is Maandag op 29 weke in ’n Pretoriase hospitaal gebore.

Daar is berig Sithole het dus nou die rekord verbeter van Halima Cissé van Mali, wat verlede maand aan nege kinders die lewe geskenk het.

Thabo Masebe, woordvoerder van die Gautengse provinsiale regering, het egter Woensdagmiddag telefonies gesê private en staatshospitale in die provinsie dra nie kennis van die geboorte van die tien babas nie.

Nie een van die hospitale in die provinsie, privaat of van die staat, het rekord van so ’n geboorte nie.

Masebe sê as die babas gebore is, was dit waarskynlik nie in Gauteng nie.

“Die provinsiale regering het ’n deeglike ondersoek by alle hospitale in die provinsie gedoen om vas te stel wat die waarheid is,” het Masebe laat Woensdagmiddag in ’n verklaring gesê.

“Nie een van die hospitale in die provinsie, privaat of van die staat, het rekord van so ’n geboorte nie,” het hy gesê.

Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, het intussen op Twitter gesê die gesin is gevind en meer inligting sal met die nasionale regering gedeel word.

“Ons het die gesin gevind en ons is ingelig dit gaan goed met die babas.”

Masina het ook ’n verklaring gedeel wat die familie glo uitgereik het.

Luidens die verklaring het die familie Maandag om 11:00 ’n oproep van die hospitaal ontvang oor die geboorte. Die verklaring lui voorts Sithole en die babas is steeds in die hospitaal.

Netwerk24 het die nommers van kontakpersone onderaan die verklaring geskakel, maar daar was geen antwoord nie.

Netwerk24 het vroeër berig dat regeringsamptenare Dinsdag wyd en syd na Sithole gesoek het, en dat hulle teen Woensdagoggend nog geen inligting oor die geboorte van die tienling in ’n hospitaal gekry het nie.

“Ons het nog geen inligting oor die vrou en haar tien babas ontvang nie. Die departement van binnelandse sake het ook nog nie ’n versoek ontvang om die geboortes te registreer nie,” het Phumla Williams, direkteur-generaal van die regering se kommunikasiediens (GCIS), Woensdagoggend gesê.

Williams het Dinsdag in ’n verklaring gevra dat enigiemand met inligting na vore kom. “Ons het byna die hele dag hierdie storie nagespoor. Ons moet hierdie storie verifieer en hulp aanbied waar nodig,” het sy gesê. Williams het Woensdagmiddag gesê sy het nie nuwe inligting nie.

Meer oor:  10-Ling  |  Baba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.