Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gautengse rugbymanne dra aanstons Franse rugbystewels

Twee Gautengse matriekseuns gaan ná skool hul rugbydroom in Frankryk voortsit, want dié manne se hart klop rugby.

Eadin Layzell, loskopstut van St. Benedict’s College in Germiston, en Jooste Nel, wat op binnesenter vir die Hoërskool Montana in Pretoria uitdraf, het albei kontrakte van ’n jaar met die Franse klubspan Agen gesluit.

Eadin Layzell, die loskopstut van St. Benedict’s College in Germiston, in aksie teen Hellenic Academy in Zimbabwe.

Dit kom nadat hulle verlede jaar as deel van die Rugby Travel Barbarians-groep in Frankryk getoer het.

Die 18-jariges is albei tans hoofseun van hul onderskeie skole.

Hulle het Donderdag gesê hulle is opgewonde oor die droom wat bewaarheid word, maar dat dit nog onwerklik voel.

Indien alles loop soos beplan, sal hulle ná hul matriekeindeksamen na Frankryk vertrek.

Eadin in ’n wedstryd teen Sutherland High School.
Eadin met die bal in ’n wedstryd teen St. John’s College in Zimbabwe.
Eadin in aksie teen Hellenic Academy. Foto: Verskaf

Agen het een van Frankryk se voorste o.18-spanne.

Hulle het in Desember verlede jaar gelykop teen die saamgeflanste Suid-Afrikaanse toerspan gespeel, met Eadin en Jooste wat juis ’n deurslaggewende rol in die wedstryd gespeel het.

Jooste, wat verlede jaar die Blou Bulle op die o.18-Akademieweek verteenwoordig het en in 2015 vir die Pretorianers op die o.13-Cravenweek uitgedraf het, het die Franse se harte gebreek toe hy in die doodsnikke van die wedstryd deurgebars het om sake gelykop te maak.

Jooste Nel verlede jaar in aksie tydens die sewesrugbytoernooi toe die Hoërskool Montana en die Afrikaans Hoër Seunskool se eerstespanne teen mekaar gespeel het. Foto: Melinda Reynecke

Die klub het ook vir Eadin genooi om toetse te kom aflê en was ook beïndruk deur dié jong man.

Hy het nie verlede jaar op die o.18-Cravenweek-rugbytoernooi of enige ander jeugweke uitgedraf nie, hoewel Len Olivier, voorsitter van Rugby Travel, sê hy het sy potensiaal al op o.16-vlak gesien. Hy het ook al twee keer saam met Olivier-hulle se Barbarians-groep getoer.

“Daar is nie woorde om te beskryf hoe ek voel nie. Veral noudat die nuus daar buite is, voel dit al hoe meer surrealisties,” sê Jooste.

“Dit is iets waaroor ek al lank droom – nie net dat ek kan rugby speel nie, maar om oorsee te gaan is ’n baie groot eer.”

Jooste Nel van die Blou Bulle en die Hoërskool Montana vat vir Taku Matipano van die Goue Leeus vas tydens verlede jaar se o.18-Akademieweek in Bloemfontein. Foto: Shaun Roy/Gallo Images

Sy ouers, Supa en Ansu Nel, deel in sy blydskap. Jooste vermoed egter dit is dalk ’n bietjie moeiliker vir hulle omdat een van die kuikens die nes vir ’n vreemde land verlaat. Hy het ’n ouer broer en ’n jonger broer, asook ’n suster wat nog in die huis woon.

“Maar soveel hartseer wat daar is omdat ek gaan, is daar net soveel opgewondenheid. Ek is baie dankbaar dat hulle my ondersteun en daar is vir my,” sê die binnesenter wat 1,82 cm lank is en 95 kg weeg.

Jooste geniet ook atletiek en het vanjaar aan diskus en aflos deelgeneem. Iets wat baie min mense van hom weet, is dat hy ’n passie vir dans het en graag hip-hop doen.

“Maar vir nou is rugby op my hart. Dit is iets wat ek ´n go wil gee – ek glo en vertrou dit is die regte keuse,” sê hy.

Sy Frankryk-planne strek egter verder as net rugby.

“Ek wil rugby speel vir so lank ek kan, maar ek wil ook ’n verskil gaan maak. Ek het ’n hart vir die Here en dit is iets wat ek baie graag daardie kant wil deel,” sê Jooste.

“So dit gaan vir my oor baie meer as net rugby – dit is om te deel wat God al met my gedoen het en net bietjie te share van sy liefde. En dit is een van die baie groot redes waarom ek ook wil gaan.”

Vir Eadin het die werklikheid van die Franse rugbykontrak nog nie heeltemal ingesink nie.

Dit is een van sy drome sedert hy as ’n o.16-rugbyspeler die geleentheid gehad het om in Frankryk te gaan speel.

“Ek sal graag ’n professionele rugbyspeler wil word en hierdie is soos ’n klein trap om hierdie droom te bewaarheid,” sê die jong man wat 1,76 m lank is en 117 kg sterk in sy rugbystewels staan.

So dit gaan vir my oor baie meer as net rugby – dit is om te deel wat God al met my gedoen het en net bietjie te share van sy liefde. En dit is een van die baie groot redes waarom ek ook wil gaan.

Sy ouers, Warren en Deirdre Layzell, kan nie uitgepraat raak oor hul seun se prestasie nie, “want dit is nie ’n geleentheid wat na almal se kant toe kom nie”.

“My ouers is dié soort mense wat altyd net die beste vir jou wil hê, al is dit nie die ideale situasie nie. Om jou seun in ’n ander land te hê is nie regtig iets wat hulle wil hê nie, maar hulle was nog net ondersteunend.”

Eadin wil graag ingenieurswese in Frankryk studeer om uiteindelik ’n balans tussen ingenieurswese en rugby te handhaaf.

“Ek wil nie my hele lewe net op rugby staatmaak nie, want ek moet iets hê om op terug te val ingeval ek ’n besering opdoen.”

Hy sal ook graag die res van sy lewe in Frankryk wil woon en hoop dat sy kontrak hernu word of dat ’n ander geleentheid opduik.

Op skool neem Eadin ook deel aan atletiek, waterpolo en swem, terwyl hy in sy vrye tyd gimnasium toe gaan en tyd saam met familie en vriende deurbring. Hy bou ook graag modelle en speel met tegnologie wat sy ingenieursbrein prikkel.

Eadin bedank Rugby Travel vir hul volgehoue ondersteuning met sy rugbyloopbaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.