Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gautrein lewer van Maandag af beperkte diens

Die Gautrein sal van Maandag af weer gedeeltelik operasioneel wees, het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Vrydagmiddag in Pretoria aangekondig.

Die Gautrein-busse en mini-busse sal ook weer ry.

Die treine, busse en minibusse sal egter net 50% vol mag wees en ’n gesonde afstand sal deurentyd tussen passasiers gehandhaaf moet word.

Die dra van gesigmaskers sal verpligtend wees, nie net vir passasiers nie, maar ook vir Gautrein-personeel.

Die Gautrein begin weer Maandag ry, hoewel net ’n beperkte diens gelewer sal word. Foto: Argief

Prasa-treindienste sal ook mettertyd ingestel word, maar vir eers met ’n beperkte diens wat gelewer sal word, het Mbalula gesê.

Dit sal eers op vlak 3 gebeur.

Die Gautrein het later in ’n verklaring gesê sy diens, wat aan die einde van Maart weens die Covid-19-pandemie gestaak is, sal Maandagoggend vanaf 05:30 hervat word.

Die treine sal net tussen 05:30 en 09:30 ry en weer tussen 15:00 en 19:00.

Tussen dié tye sal daar elke 20 minute ’n trein wees.

Die diens na die O.R. Tambo-lughawe bly opgeskort, maar passasiers sal steeds na en vanaf die Rhodesfield-stasie in Kempton Park op die Gautrein kan ry. Die trein sal wel soos altyd by die lughawe omdraai.

Die treine, busse en minibusse sal deurentyd ontsmet word.

Tekens is reeds op Gautrein-stasies aangebring om passasiers en personeel te help om ’n gesonde afstand te handhaaf.

Die Gautrein hoop ook om ontsmettingshokkies by die ingang van elke stasie aan te bring waardeur passasiers sal moet loop. Hulle sal hier deur ’n ontsmettingsproei stap en hul liggaamtemperatuur sal geneem word.

Die Gautrein vra passasiers dat wanneer hulle nies of hoes, moet hulle dit in die holtes van hul elmboë doen. Gebruikte sneesdoekies moet in beskikbare houers geplaas word en passasiers moet so gou moontlik daarna hul hande met seep en warm water was.

Die Gautrein het ook ’n beroep op passasiers gedoen om eerder vooraf geld via die internet op hul kaarte oor te plaas om so seker te maak hulle hoef nie onnodig in toue te staan en opeenhopings te veroorsaak nie.

Mbalulu sê hy sal die stasies Saterdag en Sondag besoek om toe te sien dat alles in plek is voordat die diens Maandagoggend hervat word.

Die Gautrein-busdiens sal ook net ’n beperkte diens lewer, en wel op die volgende roetes:

H3 – Arcadia;

P3 – Pretoria-middestad;

M3 – Sunninghill;

S3 – Rivonia;

S4 – Randburg;

S5 – Fourways;

J1 – Parktown;

J2 – Johannesburg-middestad;

RF1 – Kempton Park-middestad.

Van dié roetes word aangepas.

Meer inligting oor die trein- en busdienste is van Sondag af op die Gautrein se webwerf, http://www.gautrain.co.za/, beskikbaar.

Meer oor:  Koronavirus  |  Gautrein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.