Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gautrein mag nie meer sê jy ‘wen’ 11 dae

Die Gautrein moet ’n advertensieveldtog staak nadat hy te voortvarend was in sy aansprake.

Volgens sy advertensies op radio en sosiale media kan pendelaars 11 dae per jaar “spaar” deur van die sneltreindiens gebruik te maak.

“Wat sal jy met 11 ekstra dae per jaar doen? Ry met die Gautrein en kry meer tyd vir lewe. Gautrein, vir mense aan die beweeg,” lui dit.

Die Gautrein het sy advertensie gegrond op inligting wat vanaf die Inrix Global Traffic Scorecard vir 2018 verkry is. Inrix versamel jaarliks verkeersdata van 200 stede in 28 lande.

Stefan Marnewick het by die Advertensiebeheerraad gaan kla dat die advertensies vals en misleidend is. Marnewick sê dit is onmoontlik om 11 dae te “wen”, want pendelaars sal daardie dae steeds bestee – net op die trein in plaas van in ’n motor. Hy het bygevoeg mens moet – om ’n volle prentjie te kry – ook die tyd in ag neem wat dit neem om by die stasie te kom, om vir die trein te wag, die treinrit self en die rit na jou eindbestemming.

Die Gautrein se verweer was dat die bedoeling was om die voordele daaraan verbonde om met die trein te reis uit te lig – onder meer dat dit voorspelbaar is in vergelyking met die onvoorspelbaarheid van die Gautengse verkeer. Die trein is byvoorbeeld nie onderhewig aan verkeersknope nie. Die advertensie op sosiale media lui ook ’n mens kan “tot” 11 dae spaar.

Die beheerraad sê in sy uitspraak die Gautrein het Inrix se data (wat ure bereken) bymekaar getel (143 uur per jaar vir Pretoria en 119 uur vir Johannesburg) en só by 262 uur, dus sowat 11 dae, uitgekom. Die probleem is dat Inrix se data verwys na tyd wat verlore gaan as jy pendel ín ’n stad, nie tussen stede nie. En dit is juis tússen stede waar die Gautrein vir mense kan tyd spaar.

Dit is egter volgens die beheerraad “valse logika”, want “geen enkele verbruiker in Johannesburg of Pretoria verloor 11 dae per jaar in die verkeer nie. Die meeste word deur Pretoriase verbruikers verloor (omtrent ses dae).”

Die aanspraak is ook problematies want dit skep die indruk dat treinpendelaars 11 dae kan opgaar en later gebruik. Die advertensie moet dadelik onttrek word en mag nie weer in sy huidige vorm gebruik word nie.

Meer oor:  Advertensie  |  Gautrein  |  Advertensiebeheerraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.