Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gautrein, prof in twis ná vroue agtervolg is

Die Gautrein-bestuur en ’n onafhanklike ondersoeker stamp koppe oor sy betrokkenheid by die beweerde agtervolging van verskeie vroulike passasiers.

Prof. Gérard Labuschagne, ’n private ondersoeker, sê die bestuur het hom aanvanklik gevra om hom te help om beëdigde verklarings te bekom van 14 slagoffers van agtervolging op treine en stasies van die Gautrein.

Kesagee Nayager, woordvoerder van Bombela, die maatskappy wat die Gautrein bedryf, hou egter vol hulle het nie vir Labuschagne die mandaat gegee om dié saak “of enige ander sake” aan te pak nie.

“Ons vra hom nog een maal om homself aan die beweerde saak te onttrek en die relevante owerhede toe te laat om hul werk te doen,” sê Nayager.

Die Gautrein-bestuur het klagtes van twee vroulike passasiers ontvang wat glo herhaaldelik deur mans agtervolg is.

Daarbenewens het Labuschagne verklarings van soortgelyke ervarings by 12 ander vroue bekom.

“Ek kan bevestig dat daar drie agtervolgers is wat 14 vroue teister,” sê Labuschagne.

Die mans vra die slagoffers glo onvanpaste vrae oor hul persoonlike lewe, volg hulle na hul werkplekke toe en hardloop onder meer agter die vroue aan as hulle probeer wegkom.

Nayager sê die twee wat amptelik by die bestuur gekla het, is aangeraai om ’n saak by die polisie aanhangig te maak.

“Ons het die vroue verseker ons sal die polisie help deur onder meer videobeeldmateriaal te verskaf,” sê sy.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê een vrou het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak, maar dit later teruggetrek.

“Twee ander slagoffers het die polisie gebel, maar hulle was nie bereid om sake aanhangig te maak nie. Hulle het slegs ’n beskrywing van die agtervolger gegee,” sê Masondo.

“Een slagoffer het hom in 2018 gesien en die ander slagoffer het die beweerde oortreder glo in 2017 laas gesien.

“Dit is die beskrywing van een verdagte, maar dit kan meer as een persoon wees.”

Hy sê die modus operandi en die beskrywing is met die polisie- en veiligheidsbeamptes wat by die Gautrein gestasioneer is, gedeel.

“Niemand is al in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort,” sê hy.

Die Gautrein-bestuur het ook kontak gemaak met 11 van die ander vroue wat geskrewe verklarings aan Labuschagne gegee het. “Twee vroue sê hulle is deur verskillende individue agtervolg. Ons sal ons ondersteuning en regshulp aan hulle bied,” sê Nayager. “Die ander nege vroue het nie in ’n beskermingsbevel of ons regshulp belang gestel nie.”

Volgens Nayager raai Labuschagne die vroue af om die klagtes by die polisie of by die bestuur aanhangig te maak.

“Hoewel Labuschagne sê hy is bekommerd oor die vroue se veiligheid, is sy dade kontraproduktief omdat hy die regsproses verhinder.”

Labuschagne ontken dit. Hy het wel gesê hy is krities oor die bestuur se hantering van die saak.

“Twee slagoffers het die veiligheidsbeamptes daarvan vertel, maar niks het gebeur nie.”

’n Ander slagoffer het glo herhaaldelik probeer om ’n klagte by die polisie aanhangig te maak, maar sy het nooit ’n saaknommer gekry nie. “Sy het naderhand besluit om die klagte te laat vaar omdat sy te veel trauma ervaar het,” sê hy.

Meer oor:  Vroue  |  Gautrein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.