Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gautrein-staking: ‘LUR moet nou ingryp’

Die LUR moet nou ingryp om die Gautrein-staking te beëindig.

Dit is die beroep van die vervoervakbond Untu op Ismail Vadi, LUR vir vervoer in Gauteng.

Untu het Woensdag geëis dat dr. Blade Nzimande, minister van vervoer, Vadi beveel om “op onpartydige wyse by die staking in te gryp”.

Volgens die vakbond het chaos Woensdagoggend uitgebreek op die pad na die depot van die Gautrein in Midrand toe die pad met klippe en brandende motorbande versper is, “wat ’n oortreding is van die interdik wat die bedryfsmaatskappy, Bombela, verlede week teen stakende Untu-lede verkry het”.

“Untu neem geen verantwoordelikheid vir dié onwettige optrede nie. Ons was nie bewus daarvan totdat die vakbondlede die oggend by die depot aangekom het nie.”

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, sê dit is waarskynlik “gefrustreerde mense” wat die pad versper het.

Volgens Harris het Bombela die vakbondlede woedend gemaak deurdat die maatskappy in die media op ’n gewysigde lys van eise gereageer het, en nie teenoor die vakbond self nie.

“Die minister en LUR moet aan Bombela, wat in Franse besit is, verduidelik dat die werkers met respek behandel moet word, en nie met die verontagsaming wat hulle tot dusver getoon het nie.”

Die staking by die Gautrein duur al tien dae.

Untu-lede het Dinsdag ingestem om hul eise aan die maatskappy aan te pas om ’n dooiepunt in die loononderhandelings uit die weg te ruim.

Untu eis nou ’n salarisverhoging van 9%, ’n loon van minstens R8 500 per maand vir kondukteurs, en ’n 9%-verhoging in die reistoelaag en nagskoftoelaag.

Die vakbond eis ook ’n reistoelaag van R400 per maand vir personeellede van die depot in Midrand en ’n aansporingsbonus van R15 000 vir elke werknemer.

Die werkgewer moet ook 55% van die bydrae vir die werknemers se mediese fonds betaal, terwyl die werkers 45% bydra.

Untu het Dinsdag bevestig dat Bombela ’n vierde keer ’n nuwe aanbod gemaak het, maar dat hy nie gehoor gee aan die vakbond se eise nie.

Die vakbond het vroeër ’n verhoging van 10% geëis, terwyl Bombela 8,6% aangebied het.

Meer oor:  Untu  |  Gautrein-Staking  |  Steve Harris  |  Blade Nzimande  |  Ismail Vadi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.