Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gavin was nie ’n ‘moorddadige booswig’, sê broerskind

Gavin Watson, grootbaas van Bosasa, en sy familie word geskets as moorddadige booswigte, maar niks is verder van die waarheid nie, sê ’n broerskind van Gavin.

Nkosi, seun van Valence Watson, sê die beweringe van korrupsie teen Gavin spruit daaruit dat sekere mense nog altyd hul mes in gehad het vir die Watson-familie omdat die familie destyds teen apartheid gekant was.

“As kind het my ouerhuis afgebrand nadat ’n bom afgegaan het. Ons familie het ons nie teen apartheid verset omdat ons later munt daaruit wou slaan nie. Ons het dit gedoen uit ons morele oortuiging,” sê Nkosi.

Die ingang van The Palms, die luukse veiligheidskompleks in Roodepoort, waar Gavin Watson ’n huis gehad het. Foto: Isabel Venter

Intussen het die staat se spesiale ondersoekeenheid (SOE) gesê Gavin se dood sal nie sy ondersoek na Bosasa beïnvloed nie.

Die SOE het bevestig hy oorweeg dit om sy mandaat uit te brei om Bosasa-kontrakte op alle regeringsvlakke te ondersoek.

Die ANC het Maandag in reaksie op Gavin se dood die Watson-familie se rol in die stryd teen apartheid uitgelig en Gavin en sy broers, Ronnie, Valence en Cheeky, as sleutelfigure in die ondergrondse strukture van die ANC gedurende apartheid beskryf.

Volgens Nkosi het die familie vrae oor die ongeluk waarin Gavin Maandag by die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park dood is. Hy sê die familie sukkel om sin te maak van sy beserings.

“Ons weet nie veel van die ongeluk nie. Hy het ’n diep wond aan sy nek, wat vir baie nie sin maak nie. Party vermoed dat iets onheilspellend gebeur het,” sê Nkosi.

Die Toyota Corolla waarin Gavin gery het, ’n maatskappymotor, het teen ’n pilaar van ’n betonbrug by die lughawe gebots. Hy is op die toneel dood verklaar.

Konrad Lotter, ’n forensiese ingenieur wat spesialiseer in die ondersoek van padongelukke, is deur die familie aangestel om die oorsaak van die ongeluk te bepaal.

Uit beskikbare videomateriaal van die ongelukstoneel lyk dit of Watson nie rem getrap het nie, sê Lotter. Dit wil vir hom ook voorkom asof die motor reguit in die rigting van die pilaar gery het.

“My ondersoek kan egter nuwe inligting oplewer wat daarop kan dui dat iets anders gebeur het,” sê Lotter.

Volgens Nkosi wou Gavin en sy familie nie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig nie omdat dit daartoe sou lei “dat feite verdraai word en dinge uit verband geruk sal word”.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het in Maart, met sy tweede verskyning voor die kommissie, getuig dat Watson R500 000 in die CR17-veldtogrekening van pres. Cyril Ramaphosa betaal het.

Ramaphosa het erken dat sy veldtog geld van Bosasa ontvang het, maar ontken dat hy daarvan geweet het.

Gavin Watson

Oor dié skenking sê Nkosi: “Gavin het miljoene weggegee sonder om iets in ruil daarvoor te verwag. Hy het gereeld geld aan kerke geskenk. Gavin is ’n goeie man en sy grootste fout was dat hy mense te maklik vertrou het.”

Netwerk24 het Dinsdag verskeie werknemers en voormalige werknemers van Bosasa, deesdae African Global Operations, om kommentaar genader, maar meeste van hulle wou niks sê nie.

“Gavin was scary, maar hy het ’n manier gehad om sy werknemers te inspireer. Daar sou daaglikse bidsessies by die kantoor wees waar Gavin ook aan die einde sou praat oor waarheen die maatskappy op pad is. ’n Mens het altyd daarna goed gevoel,” sê ’n voormalige werknemer.

’n Werknemer wat steeds by African Global Operations werk, sê die maatskappy het in ’n stadium sowat 4 500 werknemers gehad.

“Ná afleggings is daar net 2 000 mense wat vir die maatskappy werk. Die moraal is maar laag,” sê die werknemer.

“Watson se dood sal nie die fokus van die ondersoek verander nie,” sê Thobekile Gwamanda, ’n woordvoerder.

Die SOE het in 2009 sy ondersoek voltooi oor Bosasa wat na bewering omkoopgeld aan senior amptenare van die departement van korrektiewe dienste in ruil vir kontrakte ter waarde van R1 miljard betaal het.

Die saak is na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verwys, wat in Februarie gelei het tot die inhegtenisneming van etlike Bosasa-werknemers, onder andere Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof.

Daar is destyds wyd bespiegel hoekom Watson nie onder diegene was wat in hegtenis geneem is nie.

Isabel Venter berig niemand het nog Gavin se woning in The Palms, ’n luukse veiligheidskompleks in Roodepoort, besoek nie.

Netwerk24 verneem hy het die kompleks, waar hy glo al vir baie jare alleen woon, baie vroeg die oggend van sy dood verlaat.

Navrae oor Watson se lykskouing, wat na verneem word Dinsdag afgehandel sou word, is deur die forensiese laboratorium in Germiston na die nasionale departement van gesondheid verwys.

Volgens Nkosi is planne vir ’n gedenkdiens vir Gavin nog nie gefinaliseer nie.

News24 berig Gavin het net R70 in sy beursie gehad toe hy verongeluk het. Die polisie het sy identiteitsdokument en bestuurslisensie gekry, maar geen selfone of ’n reistas nie.

Hy sou Dinsdag voor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se ondersoek na Bosasa se belastingsake getuig, berig News24.

Netwerk24 is in besit van 'n video waarin Watson Bosasa as 'n "Christus-gegronde maatskappy" beskryf.

Die video is deel van 'n DVD oor 'n konferensie wat in 2009 by die NG kerk Moreletapark aangebied is.

"Ek sê gewoonlik aan mense, as jy 'n Christus-gegronde maatskappy is en jy ken die verstand van Christus . . . die Bybel sê vra en jy sal ontvang," sê Watson in die video.

* 'n Motoris wat sê hy was 'n ooggetuie van die ongeluk, het volgens News24 aan Power FM gesê dit het gelyk of die man in die Corolla sy eie lewe geneem het.

Die beweerde getuie, ene Mphalhlele, sê die Corolla het voor hom gery toe hy 'n kliënt omstreeks 5:00 lughawe toe gevat het.

"Hy het vinnig gery. Ek het gedink hy was dalk laat vir sy vlug. Die Corolla het in die regterlaan inbeweeg. Toe, skielik in 'n oogwink, het hy reguit op die pilaar afgepyl," het hy gesê.

"Wat my betref was dit iemand wat selfdood wou pleeg."

Meer oor:  Gavin Watson  |  Motorongeluk  |  Ondersoek  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.