Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gavin Watson: ‘Die druk raak vir hom te erg’

Die dood van enige persoon wat by ’n ondersoek betrek word, is ’n “baie ernstige, delikate situasie”, sê die Valke oor die dood van Gavin Watson, grootbaas van die Bosasa-groep.

“Maar soms, as iemand sterf, stop alles vir eers. Dis sleg, hoor, dis baie sleg,” sê brig. Hangwani Mulaudzi, die Valke se woordvoerder.

Gavin Watson

“Dis nou ons plig om al die bewerings te ondersoek,” sê hy.

Almal wat nou met onafhanklike ondersoeke besig is wat die vinger na Watson wys, “sal moet byeenkom, herbesin en die pad vorentoe bespreek”.

Dit sluit in die nasionale vervolgingsgesag (NVG), wat nou met die Valke saamwerk.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, deesdae African Global Operations (AGO), het die meeste aantygings teen Watson gemaak, sê Mulaudzi. Dit was egter voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Bulelwa Makeke, NVG-woordvoerder, het by navraag gesê die Bosasa-saak berus nie op Watson nie.

William Booth, strafregprokureur, sê adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, kan steeds ’n bevinding oor Watson maak gegrond op die getuienis voor hom.

Hy meen wel Watson se dood kan die Valke se ondersoek in ’n mate beïnvloed.

“ ’n Klomp potensiële sake en ondersoeke kan in die slag bly,” meen dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner.

Hy sê egter baie meer faktore as die dood van ’n moontlike beskuldigde bepaal die uiteinde van ’n hofsaak. Hy wil daarom nie bespiegel oor die sukses van ’n saak sonder Watson nie.

Getuienis oor hom is klaar voor Zondo gelewer en dit kan steeds in die hof in ag geneem word.

Omdat hy nie daarop kan antwoord nie, bly dit egter ongetoetse getuienis, sê hy.

Volgens Curlewis moet ’n mens ook nie aanneem dat Watson noodwendig plofbare getuienis sou gelewer het nie, aangesien hy sy swygreg kon uitgeoefen het. Wat nou kan gebeur, is dat ander wat by ongerymdhede betrek word, Watson as die skuldige kan uitbeeld, “want ’n dooie kan nie praat nie”.

Intussen glo minstens een nabye familielid van Watson dat hy homself om die lewe gebring het.

“Ek kan bevestig dat Gavin nie ’n vlug bespreek het nie. Die moontlikheid dat hy by die lughawe was vir ’n vergadering, is ook onwaarskynlik,” sê Nkosi, seun van Valence Watson, Gavin se broer. Gavin het die naweek voor sy dood sy BMW by die Bosasa-kantoor in Krugersdorp gelos. Hy het ’n Toyota Corolla uitgeteken omdat die BMW herstelwerk nodig gehad het, sê Nkosi.

“Die bewerings dat Gavin nie ’n motor met ’n ratkas kon bestuur nie, is vals. Ek self het al baie kere saam met hom in só ’n motor gery terwyl hy bestuur het,” sê hy.

TimesLive het gister berig dat die motor se snelheidsmeter op 140 km/h vasgeslaan het.

Volgens Nkosi het die familie uiteenlopende menings oor wat die oorsaak was. “My familie glo dat ’n misdaad gepleeg is, maar my eie beskouing is dat die druk dalk net te veel vir Gavin geraak het. Ons wag nog op die lykskouingsverslag, wat dalk meer lig kan werp op die gebeure.”

Nkosi sê hy het Gavin Saterdag nog by ’n verjaardagpartytjie gesien en dit het gelyk asof hy goed voorbereid is vir sy verskyning voor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oor Bosasa se belastingsake. Volgens Nkosi was die maatskappy die laaste tyd finan­sieel nie gesond nie. “Gavin het die bates wat hy oorgehad het gehou om regskoste te betaal van hofsake waarby hy moontlik betrek sou word.”

’n Openbare gedenkdiens word Vrydag vir Watson gehou.

Meer oor:  Gavin Watson  |  Motorongeluk  |  Ondersoek  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.