Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gavin Watson: Dít is bisar, sê seun

Hy het in daardie stadium vermoed dat die bestuurder ’n hartaanval gekry en bewusteloos is of dat hy doelbewus in die betonpilaar vasgejaag het omdat die draai in die pad baie ooglopend is.

So sê een van nog twee mense wat Donderdag na vore gekom het oor Gavin Watson, grootbaas van Bosasa (deesdae African Global Operations of AGO), se dood.

Die wrak waarin Gavin Watson dood is nadat die motor die pilaar getref het. Foto: Twitter

AGO is sentraal in verskeie ondersoeke, onder meer van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatska­ping oor reusebedrae omkoopgeld wat glo betaal is vir staatskontrakte.

Die Toyota Corolla wat Watson bestuur het, het Maandag 05:05 in ’n betonpilaar van ’n oorhoofse brug by die O.R. Tambo-lughawe se ingang vasgejaag.

Een van die twee ooggetuies (albei wil anoniem bly) sê hy het die motor aan die kant van die hoofweg sien staan. Sy noodligte was aan en dit het gelyk of die bestuurder gereed was om weer in die pad in te draai.

Toe die ooggetuie verby is, het die motor weggetrek en verby sy motor gejaag.

Toe die ooggetuie die pad na die lughawe se aflaaigebied nader, het die Toyota die pilaar op die onderste pad getref.

“Te oordeel na die aard van die impak en die geraas het die voertuig die brug se pilaar beslis met ’n spoed van meer as 100 km/h getref (TimesLive het Woensdag berig dat die snelheidsmeter op 140 km/h vasgeslaan het).

“Ná die impak het die motor dadelik dwars gedraai en daar was rook. Omdat ek ’n vlug moes haal, kon ons nie gaan kyk nie,” sê die ooggetuie.

Die ander getuie sê hy het uit Boksburg se rigting na die lughawe gery om sy tante te gaan aflaai. Hy sê die botsing het teen ’n “massiewe spoed” gebeur.

Watson en Jacob Zuma toe dié nog president was.

Toe die motor die draai voor die betonpilaar nader, het die bestuurder nie spoed verminder nie. Die getuie het nie bande hoor skree nie, net ’n harde slag met die impak.

“Ek het gedink iets gaan gebeur, want hy het reguit gery waar die pad ’n draai maak. Die volgende oomblik het ek ’n geweldige slag gehoor.”

Nadat hy sy tante afgelaai het, is hy terug na die toneel. Die ambulans was toe reeds daar.

Dit is toe dat hy vermoed het die bestuurder het dalk ’n hartaanval gekry of doelbewus verongeluk.

Dit het Donderdag ook bekend geword dat Watson se selfoon ná sy dood seine van Germiston aan die Oos-Rand en van Bryanston in Johannesburg uitgestuur het.

Watson se seun Roth sê sy pa se selfoonsein is Maandag ná 20:00 opgevang, maar nie weer daarna nie en die polisie weet nie waar die foon nou is of waarom dit ná sy pa se dood rondbeweeg het nie.

“Dit is bisar, nes sekere ander omstandighede van die ongeluk,” sê Roth.

“Dit is vreemd dat daar nie ’n skraapmerk aan sy gesig of sy bril was nie. Ons is ook nie tevrede met hoe die polisie die misdaadtoneel (sy beskrywing) bestuur het nie.”

Daar was ook ’n snymerk aan sy pa se keel.

Hulle het ook vrae oor die tyd wat dit hom geneem het om van sy woonplek, die kompleks The Palms in Roodepoort (waar hy volgens veiligheids­kameras 04:03 weg is), tot by die lughawe te kom. Die ongeluk is omstreeks 05:05 aangemeld.

Volgens ’n bron na aan die familie sou dit Watson net ’n halfuur geneem het om by die lughawe uit te kom. Roth sê die ongeluk kon dalk heelwat vroeër gewees het en is dalk eers later aangemeld.

Watson word Dinsdag 11:00 in sy geboortestad, Port Elizabeth, uit die Veremarksaal begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.