Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gavin Watson ‘had geen geld in buiteland’

Gavin Watson, grootbaas van Bosasa, het nie ’n enkele rand in die buiteland gehad nie, sê sy broerskind Jared.

Jared het gereageer op ’n berig in Sunday Times Sondag waarin beweer word Gavin het ’n trustrekening oorsee gehad waarin hy honderdmiljoene rande gestort het.

Sunday Times berig dié inligting is in ’n ondersoek van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oor Bosasa, deesdae African Global Operations, bekend gemaak.

Gavin Watson

Gavin sou die afgelope Dinsdag in dié ondersoek getuig, maar is Maandag in ’n motorongeluk by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg dood.

Volgens Sunday Times is daar in die SAID-ondersoek getuig hoe Gavin ’n trustrekening in Guernsey, ’n eiland in die Engelse kanaal, oopgemaak en altesame R500 miljoen daar inbetaal het.

“Dis absolute bog. Ek het Gavin se paspoort wat in 2009 hernu is en dit wys hy was sedertdien nog nie in Guernsey of in die Verenigde Koninkryk nie,” het Jared Sondag aan Netwerk24 gesê.

Al bates wat Gavin die afgelope tyd gehad het, was ’n huis in Port Elizabeth en ’n huis in Roodepoort, sê Jared. Gavin het as uitvoerende hoof van African Global Operations sy maandelikse salaris ontvang.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, wat verlede week in die SAID se ondersoek getuig het, het erken hy het hier getuig oor ’n trustrekening wat Gavin oopgemaak het.

“Ek weet egter nie hoeveel geld in die rekening was nie.”

Agrizzi het reeds twee keer voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig. Sy getuienis het ’n prentjie van grootskaalse korrupsie by Bosasa geskets.

Oor Gavin se ongeluk sê Jared die familie het steeds meer vrae as antwoorde.

Gavin se selfoon is nie op die ongelukstoneel gevind nie.

Netwerk24 het vroeër berig die polisie het die bewegings van Gavin se selfoon nagespoor. Jared sê dit was egter ’n private veiligheidsmaatskappy wat met die opsporingswerk gehelp het.

Dié maatskappy het met behulp van selfoonseine bepaal dat Gavin se selfoon die dag van sy dood, ná die ongeluk, in Germiston was, ’n hele ent van die lughawe.

Die aand om 20:00 is die selfoon glo na Bryanston geneem, waarna die selfoon se sein verdwyn het.

“Ons kon steeds nie die selfoon opspoor nie. Dit kan seker wees dat iemand die selfoon van die toneel af gesteel het, maar die feit dat dit rondgeskuif is, laat my twyfel dat dit die geval was.”

Jared sê dit is nie moontlik dat Gavin op pad na die lughawe was om te vlug nie, want Gavin se paspoort was by hom. Hy kan nie met sekerheid sê wat Gavin by die lughawe gemaak het nie.

Gavin se lykskouingsverslag is nog nie uitgereik nie.

Meer oor:  African Global Operations  |  Bosasa  |  Gavin Watson  |  Oorlede  |  Geld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.