Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gawe egpaar ‘kaap’ hul siek stiefpa voor dood – en erf nou die helfte

Hierdie artikel het vroeër gelui dat die Hendricks-egpaar ná 'n paar kuiers in die hospitaal by Bower ingetrek het. Dit was egter ná slegs een kuier. 


’n Oos-Kaapse familie is in rou én in die duister gedompel nadat ’n wildvreemde egpaar glo hul bejaarde siek stiefpa “gekaap” het en nou die helfte van sy boedel erf.

Oom Willem Bower by sy seun, Riaan Massyn, en dié se vrou, Linda.

Riaan Massyn sê sy stiefpa, Willem Bower (87), was in Junie siek in die Livingstone-hospitaal toe hy ’n man ontmoet wat hy as ’n “gawe Moslem-man” beskryf het.

Massyn is ’n Christen, maar het dit baie waardeer dat die vreemde man gereeld vir sy stiefpa gaan bid het.

Dié Samaritaan, Nadeem Hendricks, en sy vrou, Zainap, het by Bower ingetrek nadat hulle hom in die hospitaal ontmoet het.

Massyn beweer sy siek stiefpa is ’n dag voor sy dood in ’n rolstoel by ’n Metropolitan-tak ingestoot om sy testament en die begunstigdes op sy polis te verander. Ingevolge die nuwe testament erf Nadeem Hendricks Massyn se voormalige erfporsie.

Die Hendricks-egpaar ontken alle bewerings van ongerymdhede of dat hulle ’n ou, siek man uitgebuit het.

Hendricks het by navraag net gelag oor die bewerings. “Ek het my beste getry om die oom happy te maak. Kan die kinders dit sê?”

Op 13 Julie is Bower in sy beskeie huis in Young Park, Port Elizabeth, dood.

Massyn sê Bower was van kleintyd sy vaderfiguur, die broodwinner vir sy ma, Johanna (68), en drie kinders. In 2007 het sy ma uitgetrek en by een van die dogters gaan bly, maar hulle was ten tyde van Bower se dood nog getroud.

Massyn sê sy stiefpa se testament het bepaal dat hy en sy ma elkeen die helfte van Bower se boedel erf, maar dié testament is volgens Massyn in die laaste drie weke van sy lewe verander.

Die weduwee se volgende skok was ’n getikte brief, wat Rapport gesien het, waarin Bower oënskynlik beveel dat die Hendricks-egpaar so lank in sy huis mag bly as wat hulle wil, solank hulle die huis onderhou en water en ligte betaal.

Willem Bower se beskeie huis in Young Park, Port Elizabeth.

“Mnr. Hendricks is ten volle in beheer en verantwoordelik vir alles,” lui die brief, wat nie onderteken of gedateer is nie.

Massyn sê die skielike ommeswaai van sy stiefpa was ’n skok. Volgens hom het hy in die laaste paar weke sy stiefpa probeer besoek, maar Nadeem het telkens vir hom gesê sy stiefpa is nie tuis nie en hy moet later terugkom.

Hy sê hy en sy stiefpa was na aan mekaar en het gereeld gekuier, veral op sy verjaardag en ander feesdae. Baie keer het hulle saam rugby op TV gekyk en ’n vleisie op die kole gegooi. “Vir jare was ek die enigste familielid wat hom besoek het,” sê Massyn.

Nadat sy stiefpa in Junie uit die hospitaal ontslaan is, het hy hom weer gaan besoek en die “indringers” se wit BMW in die oprit gesien.

Nadeem het glo aan hom gesê dat hulle vir die siek oom in die hospitaal gebid het en dat dié toe gevra het dat hulle by hom intrek as sy versorgers. Ná Bower se dood het Nadeem selfs probeer om die reëlings met die begrafnisondernemer behartig, sê Massyn.

“Die polisie sê dit was maar sy hart. My stiefpa het geen hartprobleme of enige ander oumenskwale gehad nie, slegs ’n liesbreuk,” sê Massyn.

Sy suster Karin Groenewald sê haar ma het ná haar man se dood by Metropolitan gaan navraag doen oor die begrafnispolis wat gewysig is.

“Toe sê die dame daar sy onthou die ou oom in die rolstoel en dat hy baie siek gelyk het.”

Nadeem het by navraag net gelag oor die bewerings. Hy sê hy en sy vrou besoek siekes in hospitale.

“Soms vat ek ’n paar loaves brood, plak daar botter en peanut butter op en neem dit vir die siekes. Ons bid ook vir hulle.”

Hy sê oom Willem het hom gevra om na hom om te sien. “Ek het nie die oom se geld nodig nie, want ek het my eie huis. Ek wou destyds nie by my ouers gebly het nie en hier gee die Here my toe ’n kans om na die omie te kyk.

“Die kinders het hul stiefpa alleen gelos. Nou wil hulle sy rykdom, wat bestaan uit ’n armsalige huisie en ’n begrafnispolis van R3 000, kom kry.

“Die stiefseun het die begrafnispolisgeld kom vat. Man, dit was ’n disaster funeral. Min mense.

“Riaan dink ek het hom gedefraud, maar oom Willem het sy testament voor financial advisors geteken. Dink jy hulle sal die fraud toelaat?

“Ek het my beste getry om die oom happy te maak. Kan die kinders dit sê?”

Die Hendrickse het intussen uit die huis getrek.

Meer oor:  Nadeem Hendricks  |  Willem Bower  |  Riaan Massyn  |  Testament  |  Boedel  |  Erfgename
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.