Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gay paartjie oorweeg regstappe teen Beloftebos

Die gay paartjie wat toestemming geweier is om in Beloftebos in Stanford te trou, raadpleeg tans regslui en oorweeg verdere stappe.

Megan Watling en Sasha-Lee Heekes, ’n jong Kaapse paartjie, was onlangs in die nuus nadat Beloftebos, ’n bekende trou-venue, hulle in kennis gestel het dat hulle weens “’n persoonlike geloofsoortuiging nie gasheer vir troues tussen paartjies van dieselfde geslag kan wees nie”.

Dié venue was in 2017 om dieselfde rede in die nuus toe ’n gay paartjie, Alex Thorne en Alex Lu, ook moes hoor dat hulle nie daar kan trou nie.

Die nuus oor Watling en Heekes het aandag in die internasionale en plaaslike media gekry, en ook CNN het Dinsdag op sy tuisblad daaroor berig.

Die paartjie het Dinsdag gesê hulle sal Donderdag ’n verklaring uitreik, maar Netwerk24 het via ’n woordvoerder, wat namens die egpaar praat, verneem dat hulle reeds al hul opsies oorweeg.

“Megan en Sasha-Lee hou by hul standpunt wat hulle op sosiale media uiteengesit het. Hulle is oorweldig deur die steun wat hulle ontvang het en gewalg deur die homofobiese aanvalle en gedrag van ander. Hulle is tans in gesprek met ’n wye verskeidenheid groepe en rolspelers, en neem nou die tyd om alle opsies behoorlik te oorweeg. Hulle sal binnekort ’n aankondiging maak oor die pad vorentoe en vra dat mense dit respekteer dat dit ’n ingewikkelde aangeleentheid is wat behoorlike oorweging verg,” sê die woordvoerder.

Sasha-Lee Heekes en Megan Watling. Foto: Facebook

’n Aanlyn versoekskrif is op change.org begin om Beloftebos by die Menseregtekommissie (MRK) te verkla. Sowat 2 000 mense het reeds die versoekskrif teen Dinsdagoggend onderteken.

Intussen het die MRK reeds aangedui dat hy die saak, net soos in die 2017-geval, wil ondersoek en moontlik in ’n hof sal besleg.

Adv. André Gaum, regshoof van die MRK, sê hulle is nog nie bewus van ’n klag wat oor die jongste voorval ontvang is nie, maar dat die kommissie in ieder geval op eie inisiatief betrokke wil raak.

“Daar is reeds ’n soortgelyke saak by ons, en in daardie aangeleentheid is ons besig om ons hofstukke op te stel sodat die kwessie deur die gelykheidshof in die Kaapse hooggeregshof aangehoor kan word.

“Wat sou kon gebeur, en wat ons baie sterk oorweeg, is dat ons ook hierdie nuwe kwessie deel van die 2017-saak wil maak.”

Hy sê dit lyk op die oog af asof hierdie twee aangeleenthede ooreenstemmings toon, maar dat dit ondersoek moet word.

“Ons standpunt is dat ’n mens nie in die naam van geloofsoortuigings en godsdiensvryheid onbillik teen iemand op grond van hul seksuele oriëntasie kan diskrimineer nie. Die Grondwet is duidelik in dié verband.”

Michael Swain, uitvoerende direkteur van Freedom of Religion South Africa, ’n drukgroep wat hom beywer vir die reg tot godsdiensvryheid vir alle Suid-Afrikaners, sê indien Watling en Heekes hul opsies oorweeg, het hulle die reg om die saak wetlik te benader. Beloftebos sal dienooreenkomstig ook die reg het om sý opsies te oorweeg.

Beloftebos sal die kwessie op grond van sy regte teenstaan, net soos wat hy ook die 2017-saak teenstaan.

“As hulle meen dat hul grondwetlike reg om nie onbillik behandel te word nie geskend is, het hulle ook soos enige ander persoon regsremedies.

“Net so het Beloftebos die reg om die saak ten sterkte teen te staan en te beveg op die gronde dat godsdiensvryheid in die Grondwet beskerm word.”

Op die vraag oor die blootstelling wat hierdie kwessie plaaslik en internasionaal geniet, sê Swain dit verbaas hom nie.

“Dit is natuurlik ’n wêreldwye tendens dat aktiviste van die LGBTQ+-gemeenskap die troubedryf teiken.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.