Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gay predikant laat vaar haar sake teen kerk
Ds. Ecclesia de Lange in 2015. Foto: Denzil Maregele

Ná meer as agt jaar het ds. Ecclesia de Lange, voormalige gay predikant van die Metodistekerk, die strydbyl begrawe.

In ’n roerende verklaring verduidelik De Lange waarom sy haar aansoek om verskeie van haar sake in die arbitrasiehof en gelykheidshof te laat hersien, laat vaar.

De Lange, wat in 2009 met haar lewensmaat, Melanie Case, getrou het, is as predikant afgedank omdat sy met iemand van dieselfde geslag getrou het.

Sy het in 2010 die hooggeregshof in Kaapstad genader en tot in die hoogste hof in die land geveg om in haar amp herstel te word.

Sy was predikant van die Metodistegemeentes

Brackenfell en Windsorpark in Kraaifontein toe sy eers geskors en later ontslaan is. Die kerk het gesê hy erken net heteroseksuele huwelike.

“Nadat ek baie gebid het, het ek tot die besluit gekom om my aansoeke in die howe te laat vaar,” lui haar verklaring.

Sy het vier redes gegee vir haar besluit.

Ek het lank gedink oor my lewe en die paadjie wat ek geloop het met die kerk.
Ds. Ecclesia de Lange

Eerstens het sy gesê was die afgelope meer as agt jaar vir haar baie pynvol. Sy moes die verwerping en die besluit van die Metodistekerk aanvaar. “Ek het lank gedink oor my lewe en die paadjie wat ek geloop het met die kerk en ek het besluit ’n positiewe ding moet van ’n slegte kom.”

Tweedens het die hofsake niks vir haar of ander lede van die lesbiese, gay, biseksuele en transgender-gemeenskap (LGBTI) gebring nie.

De Lange glo indien die sake verder geneem is, sou dit net verdere skeiding en nie versoening bring nie.

Laastens meen sy die kerk het die vermoë om beter gesprekke oor die kwessie van huwelike tussen mense van dieselfde geslag te hanteer en te aanvaar

Daarom, om myself te ondersteun en God te eer, het ek besluit om my eie kwesbaarheid aan die kerk te offer.
Ds. Ecclesia de Lange

“Daarom, om myself te ondersteun en God te eer, het ek besluit om my eie kwesbaarheid aan die kerk te offer,” lui De Lange se verklaring.

Sy het ’n amptelike versoek aan die kerk gestuur om deel te raak aan gesprekke oor dié kwessies.

Hierdie ontmoeting het wel in Oktober 2017 plaasgevind en die doel was om mure van vrees af te breek, om brûe te bou tussen verskillende geloofsgroepe en ’n meer inklusiewe manier te vind om die LGBTI-gemeenskap in kerke te laat welkom voel.

“Dit was ’n terugslag toe die kerk besluit het ons moes afsonderlike verklarings uitreik,” het De Lange gesê.

Sy skryf later in haar verklaring dit is haar wens dat die kerk ’n aktiewe deelnemer raak om die boodskap – dat alle mense gelyk is voor die oë van God – te versprei.

“Dit het my lewenswerk geword om die dialoog aktief te hou en so genesing, versoening en inklusiwiteit te bereik.”

De Lange is steeds aktief en werk saam met verskeie gemeentes en preek waar sy uitgenooi word. Sy is ook deel van Inclusive and Affirming Ministries.

“Dit was soos ’n skoenlapper wat uit sy kokon moes deurstoot. Persoonlik is ek op ’n baie goeie plek in my lewe,” het De Lange gesê.

Meer oor:  Kraaifontein  |  Gay  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.