Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gays: NG Kerk hou ‘valse eenheid voor’, sê Moreletapark

Die NG gemeente Moreletapark in Pretoria het sy “bekommernis en ontsteltenis ten sterkste” uitgespreek oor die Algemene Sinode (AS) se besluit oor homoseksualiteit twee weke gelede.

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die sinode se 17de vergadering het vroeër vandeesmaand in Benoni ’n beskrywingspunt met ’n groot meerderheid aanvaar wat ruimte maak vir ’n verskeidenheid van menings oor die aangeleentheid.

Die besluit bied aan kerkrade die ruimte om self te besluit of hulle selfdegeslagverhoudings erken, gay paartjies wil trou en gay predikante wil aanstel.

Die AS het ook ’n taakspan opdrag gegee om ’n huweliksformulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

Die predikante van Moreletapark het almal op die dag wat die saak bespreek is, die AS se vergadering bygewoon. Dié makro-gemeente dreig al etlike maande lank om die NG kerkverband te verlaat, maar hy hou vol dit sal nie oor die verskillende standpunte oor homoseksualiteit wees nie.

Lees die berig hier: ‘Ons besluit is nie oor geld of gays’ – Moreletapark

Moreletapark sê in die verklaring ná die sinodesitting hy is “bekommerd oor die stand van die NG Kerk-denominasie”.

“Die vrug van die Sinode se besluit is een van verwarring en onenigheid. Ons is van mening dat ’n valse eenheid voorgehou word en dat daar reeds polarisering binne die denominasie bestaan rondom hierdie saak. Ons kan nie Bybelse outoriteit ondermyn en verwag om ’n lewendige geestelike basis in stand te hou nie. Sonder sondebesef,

skuldbelydenis en verandering sal die kerk die weg van wêreldse praktyke volg,” lui die verklaring.

Die kerk lys dan ’n paar punte om sy teenkanting te staaf.

Hy sê eerstens die Woord van God staan sentraal in die uitleef van sy geloof. “Primêr gaan dit oor die gesag en interpretasie van die Woord van God en die erkenning dat die Bybel deur God geïnspireer is.”

Moreletapark sê voorts “Christelike eenheid kan nie ten koste van die waarheid voorgehou word nie. Eenheid binne die kerk vind hom juis binne die waarheid van die Skrif en akkommodeer nie sondige praktyke nie.”

Die kerk bevestig sy beleid aangaande die huwelik “te wete dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word”.

Die gemeente staaf elke punt met Bybelverse.

Moreletapark sal gevolglik nie selfdegeslagverbintenisse bevestig nie, lui die verklaring.

“Ons is geskape na die beeld van God en daarom moet ons mekaar met respek en deernis behandel. Ons deure en harte is oop om mense in selfdegeslagverhoudings in die gemeente te ontvang en te bedien met die evangelie van liefde in Christus Jesus.”

Die pad vorentoe

Die kerk sê hy hou op 31 Oktober ’n kerkraadsvergadering waar hy dit gaan bespreek om die Oostelike Sinode (waarin Moreletapark val) te versoek om ’n dringende buitengewone vergadering byeen te roep waarop dié saak sal dien.

Die kerkraad beplan ook ’n konferensie waarheen alle leraars en gemeentes wat dieselfde standpunt huldig, uitgenooi word. “Ons wil kontak maak sodat gemeentes wat dieselfde belydenis het, saam kan besin oor die pad vorentoe.”

Die kerkraad hoop ook hy kan die opdrag van die Algemene Sinode om die formulier vir selfdegeslagverbintenisse te ontwikkel, staak.

“Dit is met kommer dat ons kennis neem van behoudende lidmate wat reeds die NG Kerk verlaat het of wat op die punt is om dit te doen. Ons doen ’n beroep op lidmate om nie oorhaastig in hierdie verband te besluit nie. As behoudende Christene wil ons vra dat ons hande sal vat en ons verantwoordelikheid opneem om uit te reik na alle mense met liefde, deernis en genade om Jesus Christus

se verlossingsboodskap te verkondig,” lui die verklaring.

Ds. Francois Retief, uitvoerende amptenaar van die Oostelike Sinode, het bevestig dat die streeksinode reeds ’n lys van Moreletapark se bekommernisse en ’n dokument, waarin die kerk bely wat hy glo, ontvang het.

“My ooreenkoms met Moreletapark is om nie die gesprek in die media te voer nie. Ons sinodale diensraad vergader in elk geval eers in November en sal die saak dan kan bespreek,” het Retief by navraag gesê.

Toe hy daaroor gevra is, was hy nie bewus van Moreletapark se plan om die sinode te versoek om ’n buitengewone sinodesitting byeen te roep nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Gay-Debat  |  Godsdiens  |  Ng Kerk  |  Algemene Sinode (As)
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.