Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Die hele skof se manne is weg’

’n Brandende kers in ’n plastiekhouer. Mense wat hardop bid en trane wat onbeheers vloei.

Dít is van die emosionele tonele wat hulle Maandagaand buite die ingang van die Denel Rheinmetal-ammunisiefabriek in Macassar naby Somerset-Wes afgespeel het.

Agt mense is dood toe ’n massiewe ontploffing die ammunisiefabriek die middag geruk het. Die nooddienste kon teen laataand nie bevestig of nog mense vermis word en of beseer is nie.

Familie en vriende van werkers by die Denel wapensaanleg bid buite die gebou. Foto: Adrian de Kock

Buite die hekke het mense angstig gewag op enige brokkie nuus.

Theo Layne, woordvoerder vir Kaapstad se brand-en- reddingsdienste, het bevestig die ontploffing het omstreeks 15:45 by die Denel Rheinmetal Munition-aanleg se Sonchem-fabriek plaasgevind.

Layne sê 15 brandweermanne en drie brandweervoertuie was op die toneel, maar toe hul spanne daar aankom, het personeellede reeds die brand geblus.

“Brandbestryders was tot laat besig met ’n soek-en- reddingsoperasie na van die werkers wat vermis was. Die oorsaak van die ontploffing is nog nie bekend nie,” het Layne gesê.

Lt.kol. André Traut, polisiewoordvoerder, kon laataand nog nie inligting oor die voorval gee nie.

Werkers is huis toe gestuur en verbied om oor die gebeure te praat.

“Dit was ’n oorverdowende slag. Dis amper die hele skof se manne wat daarmee heen is,” het ’n uiters ontstelde werker gesê.

Familie en vriende omhels mekaar na afloop van die ontploffing by die Denel wapensaanleg. Foto: Twitter

“Die gebou net agter ons het inmekaar gesak. Daar’s niks meer gebou oor nie. Die karre wat daar staan se dakke is af. Die karre staan daar maar niemand kom uit nie. Dis amper die hele skof van wat nog daar binne was,” het ’n ander werker bygevoeg.

Een vrou het gesê die fabriek vervaardig al jare reeds ammunisie en plofstof, maar niemand weet wat presies gebeur het nie.

“Dis net te hartseer. Dit kon ons ook gewees het,” het sy gesê.

Charlotte Powell, woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuursentrum, het gesê Rheinmetall Denel Munition sal kommunikasie oor die voorval hanteer, aangesien die betrokke perseel ’n nasionale sleutelpunt is.

Ná ’n aanvanklike inspeksie het die fabriek die Kaapstad-metro verseker dat die rookwolk van die ontploffing geen bedreiging vir die publiek inhou nie. Alle nodige voorsorgmaatreëls word geneem en die ondersoek sal Dinsdagoggend met eerste daglig voortduur, sê Powell.

Familie en vriende bid buite Denel-aanleg na ontploffing. Foto: Adrian de Kock
'n Vour hou 'n kers vas tydens die nagwaak wat buite die wapenaanleg gehou is. Foto: Jaco Marais

Die impak is wyd gevoel.

Inwoners het in die sosiale media gesê dit het gevoel asof hul huise se dakke afgeruk word.

Jeanri Lee Calitz, wat ’n winkel in die Strand besit, sê dit het aanvanklik gevoel of die skudding in hul gebou was.

“Ons het uit ons gebou gehardloop en ’n sampioen-rookwolk oor die Denel-aanleg sien hang.”

Ons het uit ons gebou gehardloop en ’n sampioen-rookwolk oor die Denel-aanleg sien hang.

Dan Plato, LUR van gemeenskapsveiligheid wat in die Suid-Kaap was, het sy medelye met die families betuig.

Hy sê daar is verskeie vrae, soos hoe so ’n voorval by ’n nasionale sleutelpunt kon gebeur het.

“As deel van my oorsigmandaat onderneem ek om die voorval, oorsake en gevolge met die polisiebestuur in die provinsie en nasionaal op te neem. Gemeenskappe in die digbewoonde buurte om die Denel-aanleg moet op die hoogte gehou word en verseker wees van hul veiligheid.”

Die ANC in die Wes-Kaap het hulle medelye met die families uitgespreek. “Ons gaan voort om die situasie deur ons raadslede op die grond te monitor en ons hoop dat daar nie meer sterftes sal wees nie,” het Faiez Jacobs, ANC-sekretaris van die Wes-Kaap het gesê.

Die DA het ook Maandagaand sy medelye met die oorledenes se familie uitgespreek. Die party het ook gevra dat die ontploffing ondersoek word. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.