Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geboorteplek van Afrikaanse taal verwoes
Die huis waarin die eerste Afrikaanse taalstryder, S.J. du Toit, en sy seun, Totius, gewoon het, is Maandagaand in ’n brand verwoes.Foto: Justin Sullivan
Vlamme het die huis se oorspronklike geelhoutvloere en vensterrame wat sedert 1792 bewaar is, verswelg. Foto: Justin Sullivan
Só lyk die oorblyfsels van die Du Toit-huis op Augusta Kleinbosch in die Paarl. Foto: Lulama Zenzile

Die plaas in die Paarl waarop die eerste Afrikaanse taalstryders gewoon het en waar die eerste Afrikaanse skool is, sal “nooit weer normaal wees nie,” sê Francois du Toit, een van die plaas se bestuurders.

Só het dit binne die huis gelyk. Foto: Facebook/ Jean Oosthuizen

Du Toit-huis, waarin Francois en nog ’n gesin gewoon het, asook die restaurant op die gasteplaas Augusta Kleinbosch is Maandagaand oornag in ’n brand vernietig.

Dit is die huis waarin S.J. du Toit, stigterslid van Die Genootskap van Regte Afrikaners, en sy seun, die digter en skrywer Totius, gewoon het. Die huis staan langs die eerste Afrikaanse skool, die Hugenote-gedenkskool, wat in 1883 op die plaas opgerig is. Die skool en die Malherbe-huis langsaan is nie in die brand beskadig nie.

Die oorspronklike dakbalke, plafon, geelhoutvloere en -vensterrame van die Du Toits se huis wat in 1792 gebou is, is in die brand verwoes.

Francois het vir agt jaar in die huis gewoon en kon slegs sy ID, rybewys en beursie, ’n selfoon, ’n tablet en die klere aan sy lyf red. Hy het al sy aardse besittings, onder meer ’n paar van sy Frans Claerhout-skilderye, in die brand verloor.

“Sulke goed gebeur,” sê Du Toit. “Dit help nie jy sit in ’n hopie nie. Nou moet ’n mens uitwerk hoe jy jou lewe verder bymekaar gaan krap.”

Du Toit en die Duitse eienaars van die Augusta Kleinbosch-gasteplaas het Maandag om 22:00 rook geruik. Om 22:15 het hulle ’n oproep van ’n buurplaas gekry dat dit in die nabye berge brand.

Jy kon dit nie glo nie; dit was in ’n flits.

“Toe ons uitkom, sien ons net rook,” sê hy. Hulle het onmiddellik al die grasdakke natgespuit en sowat sewe Duitse gaste gevra om op te pak en die perseel te verlaat.

“Terwyl ons spuit, toe vat die dakke vlam,” sê Du Toit. “Die restaurant het eerste begin brand en skielik was daar net rook. Toe die rook kom, toe begin ons ontruim.”

Die Du Toit-huis, wat ook ’n nasionale gedenkwaardigheid is, is daarna feitlik vernietig. ’n Troue wat die naweek op die plaas sou gehou word, is gekanselleer.

“Jy kon dit nie glo nie; dit was in ’n flits,” sê Du Toit. “Die huis het begin brand voor die bosse en toe ons weer sien, toe spring die vuur oor die wingerde na die damwal toe – dis ongeveer 100 m.”

Du Toit sê die inhoud van die huis was van onskatbare waarde omdat die eienaars antieke meubels, ware en kuns versamel het. ’n Egte geelhout-eetkamertafel en 16 stoele is van die kosbare besittings wat in die brand vernietig is.

Só het die herehuis voorheen gelyk. Foto: Facebook/ Jean Oosthuizen

“Jy kan so ’n huis nie vervang nie,” sê Du Toit. “Ons het probeer om die kunswerke te red, maar dit was so vinnig.”

Du Toit sê die Du Toit-huis en restaurant het binne 40 minute heeltemal vlamgevat.

“Die waterpype het onder die grond gebars en ’n mens kon die water deur die grond sien opborrel.”

Selfs die mangobome wat S.J. du Toit geplant het, is erg beskadig.

Intussen is al wat oorbly van Augusta Kleinbosch se spoggerige buurplaas, Druk-My-Niet, ’n wynkelder en ’n stoor. Die meeste van die gastekothuise, die plaasbestuurder se huis en die hoofopstal op die gaste- en wynplaas is in die brand vernietig.

Altesaam 13 strukture is in die brand beskadig en twee gaste is gehospitaliseer, maar teen Dinsdagoggend ontslaan. Die brand is teen Dinsdagmiddag sowat 45% in bedwang gebring en in die hitte het die vuur telkens weer opgevlam. Volgens insidentbevelvoerder Jaco Thuynsma van Wynland-brand-en-redding het ’n geskatte 650 hektaar toe reeds gebrand.

Geskiedenis van Kleinbosch

Die eerste en tweede Afrikaanse taalbewegings is op die plaas Kleinbosch, wat hernoem is na Augusta Kleinbosch, begin.

Die heel eerste Afrikaanse koerant, Die Patriot, is op Kleinbosch gestig deur ’n onderwyser by die gedenkskool, D.F. du Toit (Oom Lokomotief). Die eerste Afrikaanse tydskrif, Ons Kleintji, het hier sy beslag gevind en van die eerste Afrikaanse boeke is gedruk op Kleinbosch, wat later Augusta-Kleinbosch hernoem is. Dit is te danke aan Totius en sy pa dat die Bybel vir die eerste keer in Afrikaans uitgegee is.

Nog ’n taalvegter, D.F. Malherbe, het ook op die plaas gewoon in die Malherbe-huis langs Totius se ouerhuis.

Ander bekendes wat ook daar skoolgegaan het sluit in die digter en skrywer A.G. Visser, Abraham Izak Perold, vader van die pinotage en stigter van die Suid-Afrikaanse wynbedryf (die KWV), en D.F. (Danie) Malherbe, later medestigter van Onderstepoort.

Die Genootskap van Regte Afrikaners het gereeld op die plaas vergader en die Afrikanerbond is hier gestig.

Die begraafplaas waarin Perold op die plaas begrawe is, Du Toit-huis, Malherbe-huis en die gedenkskool is nasionale gedenkwaardighede.

Bronne: Francois du Toit, Kleinbosch.de, hugenotegedenkskool.co.za



Meer oor:  Verwoes  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.