Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Gee ons kans om te rou,’ vra vlieënier se vrou
Charl en Natasha Viljoen. Foto: Facebook

Die vrou van die vlieënier wat bykans die dood van 50 mense veroorsaak het toe hy in ’n vliegveld se klubhuis in Botswana ingeploeg het, vra vir privaatheid sodat sy oor haar man kan rou.

"Los ons asseblief nou om Hemels naam (sic) uit en gee ons kans om te rou en dinge te verwerk!!!" het Natasha Viljoen (32) Woensdagaand op haar Facebook-blad geskryf.

Dit is die eerste keer sedert Saterdag se tragedie waarin Charl Viljoen (37), haar man, dood is dat Natasha haar stilte verbreek.

Viljoen was ’n kommersiële vlieënier by Kalahari Air Services en het laat Saterdagmiddag met ’n Beechcraft King Air B200-vliegtuig in die Matsieng-vliegklub se klubhuis, sowat 40 km noord van Gaborone, vasgevlieg. Die lugbeheertoring en 13 voertuie is ook in die brand vernietig.

Die Viljoen-egpaar se huwelik van die afgelope nege jaar was glo onstuimig en Charl het in Februarie uit hul huis getrek. Natasha weier om iets te sê oor die bewerings dat haar man in ’n swembad saam met ’n ander vrou betrap is.

Buks, Viljoen se pa, het in ’n e-pos aan Netwerk24 dié bewerings as "snert" afgemaak.

Die Matsieng-vliegklub kort nadat die vliegtuig in die klubhuis vasgevlieg het. Foto: Facebook

Vriende van Viljoen het ook gereageer en praat met lof van hom.

Petra Rademan sê: ''Charl het my nog altyd met respek behandel en baie in die verlede gehelp met die vervoer van voer vir baie perde in die Gaborone-omgewing. Hy was stiptelik, bitter netjies en tegemoetkomend."

Fiona Kotze sê Viljoen was ’n "awesome mens".

Die toneel kort nadat die vliegtuig in die klubhuis vasgevlieg het.
Van die voertuie wat by die Matsieng-vliegklub in Botswana uitgebrand het. Foto: Facebook

Wilna Heunes, ’n familievriendin, sê: "Charl was in geen verhouding met niemand nie (sic). Die beweerde swembad-episode is valslik deur mense in Gaborone versprei."

Dit gons nou oor wat Viljoen besiel het om so iets te doen.

"Ons almal wat daar was, is getraumatiseerd. Ons kinders sukkel om te slaap," sê een van die gaste wat moes koes vir die vliegtuig wat eers vyf keer laag verby die klubhuis gevlieg het.

Van die mense wie se voertuie uitgebrand het, het boonop nie versekering nie en sit met hul hande in die hare oor die geldelike verlies.

Natasha en die egpaar se sewejarige seun was saam met sowat 50 mense by ’n ooievaarspartytjie by die vliegklub. Viljoen het ongenooid daar opgedaag en nadat hy ’n bier gedrink het, het hy in sy bakkie na die Sir Seretse Khama Internasionale Lughawe in Gaborone gery. Veiligheidswagte by die vliegklub is intussen deur gaste beveel om die hekke te sluit en hom nie weer toe te laat nie.

Viljoen het glo sonder toestemming die vliegtuig, wat aan Major Blue Air behoort, na die vliegklub gevlieg. Hy het uit die vliegtuig ’n vriend gebel en gevra of Natasha daar is.

"Hy het gesê hy weet sy is daar en sy moet op die aanloopbaan gaan staan. Toe sê hy, 'ek gaan julle almal nou iets wys' en sekondes later het hy in die gebou vasgevlieg," sê ’n ooggetuie.

Kort ná 18:00 is die klubhuis, lugbeheertoring en voertuie in ’n vlammehel verswelg.

Charl Viljoen (37). Foto: Facebook

Meer oor:  Charl Viljoen  |  Botswana  |  Vliegongeluk  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.