Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geelslang byt 17-jarige in bed
Ané Meyer (17) wat op die plaas Merino op die Bultfontein-pad buite Bloemfontein deur ’n geelslang gebyt is.
Die geelslang wat Ané Meyer (17) gebyt het.
Peter Bramley

’n Leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein is Dinsdagoggend in haar bed op ’n plaas buite die stad deur ’n geelslang gebyt.

Ané Meyer (17) van die plaas Merino op die Bultfontein-pad is intussen in die waakeenheid van die Mediclinic Bloemfontein opgeneem nadat die slang van nagenoeg ’n meter haar aan die skouer gebyt het.

Dit kom nadat Peter Bramley, ’n Protea-skut en beesboer van die plaas Holmesdale, ook buite Bloemfontein op die Bultfontein-pad, Donderdagaand deur ’n geelslang op die plaas gebyt is. Merino en Holmesdale is buurplase en die gesinne ken mekaar. Bramley se vrou, Lexi, het die meisie se ouers, Francois en Marita Meyer, Dinsdag in die hospitaal ondersteun.

Die meisie het volgens haar ma omstreeks 10:00 wakker geskrik toe iets haar byt.

“Toe sy kyk wat dit is, het die slang regop langs haar kopkussing gestaan,” sê die ma.

Die meisie het opgespring en haar ma gaan sê sy is gebyt.

“Sy het twee merke aan haar skouer gehad.”

Nadat die ma gaan kyk het watter soort slang dit is, het sy met haar kind na die hospitaal gejaag.

Die meisie se pa het die slang doodgemaak en dit na die hospitaal gebring.

“Hulle het nog nie teengif toegedien nie, maar monitor haar en sal dit toedien sodra hulle dit nodig ag. Sy het net baie pyn en al haar spiere is seer, maar sy toon nog geen ander negatiewe simptome nie.”

Die ma het die hospitaal vir hul puik diens bedank.

Bramley, wat tussen die gewrig en elmboog deur ’n geelslang gebyt is toe hy sy kapokhoenders in die hoenderhok bymekaargemaak het, is ook in die Mediclinic Bloemfontein se waakeenheid opgeneem.

Volgens sy vrou het sy toestand sedert Maandag versleg, maar was hy Dinsdag steeds stabiel. “Ons hoop vir die beste,” het sy gesê.

Dr. Karl Venter, ’n mediese praktisyn van Bloemfontein wat ’n toksikologiekonsultasiediens vir dokters lewer, sê ’n geelslang se gif is neurotoksies en tas die senuweestelsel aan. Dit lei tot spierverlamming en asemhalingsprobleme.

Beryl Wilson, ’n dierkundige aan die McGregor-museum in Kimberley, sê slange word gelok deur veral knaagdiere wat by huise, tuine, skure en plaasopstalle gaan kos, water en skuiling soek omdat daar weens die droogte niks in die veld oor is nie.

Byt of pik 'n slang?

Volgens die nuutste Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is "slangbyt" die byt/pik van 'n slang (bl. 1178, 6de uitgawe). Dus is albei reg.

Jy is egter (letterlik) weens die byt in die hospitaal. Hy pik en dan byt hy, want hy sink sy tande in jou om die gif af te skei.

Meer oor:  Vicus Bürger  |  Geelslang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.