Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geen genade vir motoriste in Operasie Dis die wet
Argieffoto ter illustrasie.

Verkeersbeamptes gaan die naweek in Gauteng geen genade hê met motoriste wat die wet op die paaie oortree nie.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie, sê daar gaan baie streng teen motoriste opgetree word die naweek tydens Operasie Ke Molao (Dis die wet) wat gister begin het.

“Tydens dié operasie gaan verkeersbeamptes van al die metro’s en munisipaliteite oor die hele Gauteng in volle krag gereed wees om motoriste af te trek wat die verkeersreëls oortree,” sê Zwane.

Zwane vra dat motoriste geduldig sal wees omdat daar “byna oral” padversperrings opgerig gaan word wat verkeersvloei kan ontwrig.

Wat is jou regte en verpligtinge as jy deur die polisie van die pad af getrek word?

Volgens Alet Uys, ’n prokureur van Pretoria, is motoriste die meeste van die tyd nie bewus van hul regte en verpligtinge wanneer die polisie hulle aftrek nie.

“Dit is belangrik om kennis te neem van jou verpligtinge en regte sodat jy nie onnodig in die moeilikheid kom en die polisie jou benadeel nie.”

Netwerk24 het Maandag berig ’n dokter is met post-traumatiese stressindroom (PTSS) gediagnoseer ná ’n onderonsie met die polisie oor sy motor se nommerplaat. Hy wil nou uit Suid-Afrika padgee Kanada toe.

Jy moet die volgende weet wanneer jy afgetrek word, volgens Uys:

  • Geen persoon mag die polisie se ondersoeke of aktiwiteite belemmer of verhinder nie. Weerstand teen ondersoeke of aktiwiteite van die polisie word deur wetgewing verbied en word as strafregtelik vervolgbaar beskou.
  • ’n Polisielid in uniform het die reg om jou af te trek en jou vir jou lisensie te vra.
  • Jy mag bewys van identifikasie van die polisielid versoek, juis omdat daar bewys moet word dat die aktiwiteit binne sy of haar pligte val.
  • Indien iemand jou fisiek wil ondersoek, moet iemand van dieselfde geslag jou ondersoek. ’n Vroulike polisielid mag nie ’n man ondersoek nie, en andersom.
  • Die polisie het die reg om sekere bewyse deur middel van onder meer bloedtoetse en vingerafdrukke in te samel. Hierdie bewyse mag in die vervolgingsproses gebruik word en moet nadat die proses afgehandel is, vernietig word.
  • In die geval van padversperrings is die nodige lasbriewe vir die deursoek van motors gewoonlik reeds deur die polisielede bekom.
  • In die geval waar ’n polisielid ’n bestuurder buite ’n amptelike padversperring aftrek, mag ’n voertuig slegs deurgesoek word as ’n landdros of regter ’n lasbrief daarvoor gegee het en daar ’n sterk vermoede by die polisielid bestaan dat die bestuurder ’n misdaad gepleeg het of beplan om dit te pleeg.
  • Geen polisielid het die reg om iemand in hegtenis te neem as daar nie ’n lasbrief vir inhegtenisneming is of as daar nie reeds ’n misdaad in die teenwoordigheid van die polisielid gepleeg is nie, of as daar nie ’n redelike vermoede bestaan dat die persoon ’n ernstige misdaad gaan pleeg nie. Die meeste verkeersoortreders het reeds ’n oortreding begaan en word daarom in hegtenis geneem.
  • Geen polisielid mag ’n beskuldigde fisiek aanrand nie.
  • ’n Bekentenisverklaring deur ’n beskuldigde mag nie as gevolg van aanranding of dwang geskied nie. Die verklaring moet vrywillig geskied.
  • ’n Beskuldigde moet binne 48 uur (naweek- en vakansiedae uitgesluit) van die dag van inhegtenisneming die eerste keer in die hof verskyn en mag dan om borgtog aansoek doen.
  • Onthou dat private persone wat nie polisielede is nie, ook die reg het om persone in hegtenis te neem. Dit moet egter vir ’n skedule 1- (ernstige) misdaad wees. Verkeersoortredings word nie hierby ingesluit nie.

Volgens Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, is dit baie belangrik om jou samewerking te gee wanneer jy deur ’n polisielid afgetrek word.

“Indien ’n polisielid jou aanrand of vir omkoopgeld vra, moet jy dit aanmeld. Aanranding sluit ruk en pluk in. Die saak sal dan ondersoek word en die polisielid kan vervolg word.”

Minnaar sê klank- en video-opnames mag gebruik word om te bewys die polisielid het jou aangerand of dat omkopery plaasgevind het.

“Dit is nie onwettig om klank- en video-opnames te maak wanneer ’n polisielid jou aftrek nie,” sê Minnaar.

Minnaar maan motoriste om kalm te bly wanneer ’n polisielid onregmatig optree, aangesien hulle hulself ook skuldig kan maak aan byvoorbeeld aanranding.

Meer oor:  Padongelukke  |  Verkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.