Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Geen geweld geduld’ met protes in Hermanus
Polisielede sit op ’n heuwel en kyk uit oor Zwelihle, Hermanus ten tyde van gewelddadige protes op dié kusdorp verlede jaar. Foto: Adrian De Kock

Die Overstrand-munisipaliteit sê geen geweld sal geduld word tydens betogings vandeesweek in Hermanus teen ondernemings wat glo nie genoeg plaaslike inwoners in diens neem nie.

Dit kom nadat die groep Zwelihle Renewal verlede week gesê het hy betoog van Dinsdag tot Vrydag in dié Wes-Kaapse kusdorp. Hy wil opruk na ondernemings wat Suid-Afrikaners na bewering oor die hoof sien en eerder buitelanders aanstel.

Dié groep het Sondag gesê betogers moet Dinsdag om 07:00 by die Zwelihle-taxistaanplek byeenkom.

Elnora Gillion, waarnemende burgemeester van Overstrand, het Saterdag in ’n verklaring gesê dié poging tot “self-polisiëring” is nadelig vir die toerismebedryf en “onwettig”.

Sy sê sy het die afgelope weke met talle sake-eienaars gepraat en twyfel nie daaraan dat dié betoging ongegrond is nie. “Daar was nog geen aanduiding van enige arbeidskwessies nie.”

Indien mense voel dat hulle onbillike behandeling in die werkplek ervaar, kan dit met vakbonde en die departement van arbeid bespreek word, sê Gillion.

Ondernemings wat onwettige immigrante aanstel kan ook by die departement van binnelandse sake aangemeld word.

“Ons vra dat ons ondernemings geleenthede aan ons plaaslike gemeenskap gee. Ek veroordeel dus enige optrede wat dié ondernemings bedreig en die dorp se ekonomie sal raak.”

Volgens Gillion werk ondernemings en die gemeenskap in die algemeen saam om standpunt teen misdaad in te neem en mekaar in “moeilike finansiële tye” te steun.“Geen geweld sal geduld word nie en enigiemand wat die daaglikse werksaamhede van Hermanus in geheel ontwrig, sal met die lang arm van die gereg te doen kry.”

Intussen het die Hermanus Sakekamer Sondag sy kommer uitgespreek oor die dreigement van massa-aksie en “enige optrede wat nie bydra tot die beskerming van werkgeleenthede en die skep van nuwe geleenthede nie” veroordeel.

Luidens ’n verklaring van die sakekamer kan hy nie insien dat “enige ekonomiese voordeel” met die beplande betoging behaal sal word nie omdat die klagtes handel oor kwessies wat deur ander amptelike instellings gereguleer word en sy lede aan die regulasies voldoen.

“Die regte en verantwoordelikhede van sowel werknemers as werkgewers is welbekend, gedokumenteerd en beskikbaar aan alle belanghebbendes. Ons beskou inmenging met dié prosesse nie net as teenproduktief nie, maar dit grens aan intimidasie en onverantwoordelikheid.”

Zwelihle Renewal het die naweek op sy Facebookblad gesê sake sal Dinsdag normaal verloop, met leerlinge wat skool toe moet gaan en werkers wat moet gaan werk.

“Die werklose massas en diegene wat goedgesind teenoor hul saak is, is welkom om deel te neem.”

Verlede Woensdag het die groep beloof om ondernemings te besoek wat “ons Afrika-broers en -susters uitbuit en xenofobiese aanvalle in Hermanus stook met onbillike indiensnemingspraktyke”.

Elnora Gillion
Elnora Gillion, waarnemende burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit. Foto: Overstrand.gov.za

“Ons het besluit dat dit tyd is vir massa-aksie om ondernemings wat nie arbeidswette eerbiedig nie te dwing om dit na te kom,” lui Zwelihle Renewal se verklaring.

’n Lys van 19 ondernemings is opgestel en die betogings is oor vier dae gereël sodat elkeen besoek kan word.

“Ons wil mense verseker dat dit ’n geskiedkundige oomblik gaan wees. Diegene wat dink dat hulle gemaklik leef en ons hulle nie sal bereik nie, moet weet dat ons elke hoek van Overstrand sal aanraak. Sekere ondernemings in Hermanus is arrogant en dink dat hulle onaantasbaar is en kan doen soos hulle lus kry. Nie meer nie.”

Zwelihle Renewal het ook ’n beroep op mense gedoen om besonderhede te verskaf oor ondernemings wat teen inwoners diskrimineer en hulle uitsluit.

“Ons gaan nie enige vorm van diskriminasie of uitsluiting bevorder nie of staan en toekyk hoe mense rassisme laat voortleef en xenofobie aanmoedig nie.”

Meer oor:  Hermanus  |  Werksgeleenthede  |  Protes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.