Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geen plek vir gay-diskriminasie, sê Ban Ki-moon
Ban Ki-moon Foto: ap

Lande waar homoseksualiteit ’n misdaad is, is “teen die gety van die geskiedenis”, het Ban Ki-moon, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), Donderdag op die VN se eerste hoëvlakvergadering oor LGBT (lesbies, gay, biseksueel en transgender) -regte in New York gesê.

Die gesprek op die kantlyn van die algemene vergadering is bygewoon deur visepres. Joe ­Biden van die VSA en leiers van 20 lande wat streef na die beskerming van LGBT-regte.

Ban sê dit is “verregaande” dat honderde mense elke jaar in anti-gay-geweld sterf en miljoene ander “in die skadu van diskriminasie en vooroordeel moet leef”.

“Talle lande stry teen die gety van die geskiedenis met drakoniese nuwe strawwe vir gay wees – of selfs net om daaroor te praat. Daar is geen plek in ons 21ste eeu vir diskriminasie gegrond op seksuele oriëntasie of gender-identiteit nie,” sê hy.

Meer as 70 lande ter wêreld het steeds wetgewing wat ho­moseksualiteit ’n misdaad maak.

Ban het spesifiek Egipte, Rusland en Uganda uitgesonder vir anti-gay-wetgewing en vervolging wat toeneem.

Biden, die eerste senior Amerikaanse amptenaar wat gay-huwelike gesteun het, sê om gelyke regte vir lesbiese, gay, biseksuele en transgender mense te verseker is “die menseregtestryd van ons tyd”.

“Geen regering, geen gemeenskap, geen individu, geen omstandighede moet probeer dikteer wie jy mag liefhê nie,” het Biden gesê op die vergadering, wat ook deur pres. Michelle ­Bachelet van Chili, en Erna ­Solberg, premier van Noorweë, bygewoon is.

Byna 40 lande erken gay-huwelike. Ban het Mosambiek, die Seychelle en Nauru geloof wat homoseksualiteit vanjaar gedekriminaliseer het.

“Vir diegene wat godsdienstige of kulturele argumente gebruik om LGBT-lede van hul menseregte te ontneem, wil ek vra: Wat wen jy deur ander minder gelyk te maak? Is jou geloof of kultuur so swak dat jy dit net kan volhou deur ander se basiese regte weg te neem?”

Die Menseregteraad van die VN het ’n onafhanklike kenner aangestel om oor die skending van LGBT-regte wêreldwyd verslag te doen. – Reuters en AFP

Meer oor:  Ban Ki-Moon  |  Lgbt  |  Gays  |  Vn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.