Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geen teken van lening aan Zuma
Bank swyg oor hoe hy verband kan kry sonder titelakte

Geen spoor is te vinde van ’n verbandlening op pres. Jacob Zuma se naam om sy Nkandla-skuld van R7,8 miljoen te betaal nie.

VBS Mutual Bank, die bank wat volgens hulle en Zuma die geld geleen het, het laat deurskemer dat ’n verbandlening aan Zuma toegestaan is, maar geen so ’n verband is by die aktekantoor op Zuma se naam geregistreer nie.

Wetgewing vereis dat ’n huisverband by die aktekantoor geregistreer moet word. Boonop sou ’n verbandlening in elk geval nie moontlik wees vir Nkandla nie omdat dié eiendom aan die In­gonyama-trust behoort en nie aan ­Zuma nie.

Bongani Ngqulunga, Zuma se woordvoerder, het ná herhaalde versoeke om te verklaar hoe Zuma ’n verbandlening kon kry, volstaan by die aanvanklike verklaring dat Zuma ’n lening kragtens VBS se “standaardbepalings” bekom het.

Geen so ’n verband is by die aktekantoor op Zuma se naam ­geregistreer nie.

VBS se standaardbepalings vir huislenings word op hul webtuiste uitgestippel: Dit kan net toegestaan word vir ’n eiendom waar daar ’n titelakte of ’n toekenningsakte is.
Daarvolgens kan VBS huislenings toeken in die voormalige tuislande waar grond in gemeenskaplike besit is.

’n Toekenningsakte is ’n saaklike reg wat aan die bewoner toegeken word om te bevestig presies watter stuk grond aan hom behoort, al het hy nie ’n titelakte daarvoor nie.

Albei soorte akte word ingevolge die Wet op die Registrasie van Aktes by die onderskeie aktekantore geregistreer en lê ter insae ­vir die publiek.

Rapport kon nie een van dié soort aktes ten gunste van Zuma by die aktekantoor opspoor nie. Sy eiendomme en verbande oor sy eiendomme in Gauteng is wel geregistreer.
Gugu Mthembu, woordvoerder van VBS, het aanvanklik aangedui die bank gaan op navrae reageer oor hoe Zuma se geval aan hul standaardvereistes voldoen, maar het nie.
In ’n verklaring aan Bloomberg het VBS bevestig dis ’n verbandlening.

In ’n onderhoud met die Johannesburgse radiostasie PowerFM 987 het die onderhoudvoerder dit aan Andile Ramavhunga, uitvoerende hoof van VBS, gestel dat dit “uiteraard ’n verbandlening” is, en Ramavhunga het ­akkoord gegaan.

Andrew Bembridge, ’n kenner van eiendomsreg by die regsfirma ENS, het bevestig dat verbandlenings net toegestaan word indien daar ’n verband teen ’n akte (hetsy ’n titelakte of toekenningsakte) by die aktekantoor geregistreer is.

Nolundi Luwaya, ’n navorser by die Land and Accountability Research Centre (Larc) aan die Universiteit van Kaapstad, sê die apartheidsregering het destyds sertifikate bekend as PTO’s (“permission to occupy”) aan mense in tuislande uitgereik as bewys van verblyfreg. Dit het egter net beperkte eiendomsregte verskaf wat nie gelykwaardig was aan die regte wat ’n titelakte in die res van Suid-Afrika aan wit inwoners gegee het nie.

Dit kan nie dien as sekuriteit nie omdat dit ’n reg is wat aan die individu toegestaan is (persoonlike reg) en nie ’n reg oor die eiendom nie.

Sowat 18 miljoen Suid-Afrikaners bly op grond wat in gemeenskaplike besit is, volgens ’n raming van dié sentrum.

Die Ingonyama-trust het egter ’n plan aangekondig om die probleem te omseil. Luidens ’n verklaring van die trust in Oktober 2014 kan inwoners nou ’n langtermynhuurooreenkoms met die trust teken. Dié ooreenkoms sal jou “toegang tot finansiering” gee, lui die verklaring, omdat dit voldoen aan ­“Rica”(sic)-wetgewing.

Rica- en Fica-wetgewing vereis dat mense ’n aanvaarbare bewys van adres moet lewer, maar dis onduidelik of die trust meen dié ooreenkomste kan as ­sekuriteit vir lenings aangebied word.

Fikisiwe Madlopha, hoof van die trust se raad, het in e-pos gesê vrae oor Zuma se lening kan nie beantwoord word nie omdat dit ’n aangeleentheid tussen die raad en Zuma is.

Zuma het al voorheen gesê hy het ’n huisverband vir Nkandla. Toe die bom aanvanklik gebars het, het hy in die parlement gesê hy het vir die verbeterings betaal met ’n verband.

FNB het later gesê ’n verband aan Zuma sou onmoontlik wees omdat hy nie ’n titelakte vir Nkandla het nie.

Dit het later uit hofstukke geblyk dit was eintlik sy vriend Vivian Reddy wat die FNB-lening “gereël” het eerder as ’n lening op Zuma se naam.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Vbs Mutual Bank  |  Nkandla  |  Bank  |  Verband  |  Huisverband
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.