Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geen toets vir alkohol nadat DA-burgemeester se dodelike botsing twee eis

Geen bloedalkoholtoetse is gedoen op Nqaba Bhanga, die DA-burgemeester van Nelson Mandelabaai, ná ’n laatnag-motorongeluk waarin twee mense dood is nie.

Die advertensiebord van Nqaba Bhanga, die DA se burgemeesterskandidaat vir Nelson Mandelabaai, wat die party enkele dae voor die ongeluk opgerig het.

Bhanga, wat weer die DA se burgemeesterskandidaat daar is in vanjaar se munisipale verkiesing, sterk nog in die hospitaal aan weens beserings wat hy opgedoen het in die ongeluk op 28 Augustus tussen sy Mercedes-Benz en ’n Audi.

Die twee insittendes van die Audi, Sandile Sikolo (39) en Nonzwakazi Maho (44), is albei dood verklaar kort ná die ongeluk op die hoek van St. Leonard-rylaan en die Uitenhage-pad (R75) langs ’n nywerheidsgebied by New Brighton in Gqeberha.

Bhanga, wat ook die DA se leier in die Oos-Kaap is, het dié aand ná die viering van sy 44ste verjaardag iets by sy kantoor in Gqeberha gaan haal, waarna die ongeluk omstreeks 23:30 plaasgevind het.

Die polisie weet nie of Bhanga alkohol op sy partytjie gedrink het nie, omdat hulle nie sy bloedalkoholvlak kon toets ná die ongeluk nie.

Volgens kapt. Sandra Janse van Rensburg, plaaslike polisiewoordvoerder, was hul “prioriteit” by die ongelukstoneel om die beseerdes te help.

Die polisie sal nou deur middel van ooggetuies moet vasstel of Bhanga vroeër die aand alkohol gebruik het.

“Die prioriteit by enige ongelukstoneel is om vir beseerdes (eerste) aandag te gee,” sê Janse van Rensburg.

“Toe die polisie by die ongelukstoneel opdaag, is aandag gegee aan al die beseerdes. Dit is nie anders as enige ander ernstige ongelukstoneel nie.

“Indien die burgemeester nie ernstige beserings opgedoen het nie en nie aandag by die toneel ontvang het vanaf paramedici nie, en daar ’n suspisie of beweringe was dat hy onder die invloed van alkohol was, dan sou ’n bloedtoets gedoen gewees het.”

Die polisie sal nou deur middel van ooggetuies moet vasstel of Bhanga vroeër die aand alkohol gebruik het.

Die enigste klagte wat die polisie sover ondersoek, is van strafbare manslag.

Indien die polisie dit nodig vind om verdere klagte teen Bhanga te ondersoek, kan sy posisie as die DA se burgemeesterskandidaat vir Nelson Mandelabaai in gedrang wees.

’n Klagte dat Bhanga die inperkingsregulasies oortree het, kan ook ingedien word omdat hy op straat was ná die 22:00-aandklokreël.

Dit sal ’n massiewe terugslag vir die DA wees, omdat Bhanga ’n gewilde burgemeester in Gqeberha is wat selfs steun van opposisiepartye geniet.

Toe geweld vroeër vanjaar in KwaZulu-Natal uitgebreek het, het Bhanga met die hulp van taxi-verenigings, wat gewoonlik lojaal is aan die ANC, rondgereis om soortgelyke geweld en plundery in sy stad in die kiem te smoor.

Die DA het groot bedrae geld aan verkiesingsmateriaal met Bhanga se gesig daarop bestee.

’n Massiewe plakkaat waarin Bhanga en die DA kiesers vir ’n 50%-meerderheid in die stad vra, is kort voor die ongeluk langs ’n hoofweg in die stad opgerig.

Andrew Whitfield, DA-LP en die party se voorsitter in die Oos-Kaap, sê egter die ongeluk sal nie ’n negatiewe impak op hul verkiesingsveldtog in die stad hê nie.

“Ons veldtog kom al oor meer as ’n jaar aan en het geweldige momentum,” sê Whitfield.

Die DA het in ’n verklaring bevestig die party samel ook inligting oor die ongeluk in, waarna besluit sal word of daar teen Bhanga opgetree moet word.

Luxolo Namette van die UDM, die DA se koalisievennoot in Nelson Mandelabaai, is nou die waarnemende burgemeester terwyl Bhanga herstel.

Dit is nie die eerste keer dat Bhanga se naam betrek word by ’n noodlottige motorongeluk nie.

In 2016, toe Bhanga burgemeesterskomiteelid van die munisipaliteit was, was sy lyfwag in ’n ongeluk betrokke waarin daar ook twee mense dood is.

Die lyfwag was glo op pad om ’n vriendin van Bhanga te gaan oplaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.