Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geheim agter boodskap op R200-noot eindelik opgelos
noot
Die raaiselagtige R200-noot met ’n spesiale boodskap daarop geskryf.

’n R200-noot met ’n spesiale boodskap in swart ink daarop geskryf, het ’n inwoner van Emalahleni en Facebook-gebruikers laat wonder wat die storie daaragter is.

“Opgedra aan Celia die beste ma ooit. Jaun Boucher. Toe word ons een (sic),” staan op die noot geskryf.

Yvette Smit (36) het haar lyf speurder gehou en uitgevind die boodskap is in Januarie op die noot geskryf en dit boonop in Emalahleni self.

’n Kliënt het haar man, Johan Smit, verlede Donderdag met dié raaiselagtige R200-noot by sy onderneming betaal.

Dit het Yvette so nuuskierig gemaak dat sy die vroeg volgende dag ’n foto van die noot met ’n boodskap daarby op Facebook geplaas het.

Celia Geldenhuys en haar dogter, Marlize. Marlize het ’n liedjieversoek vir haar ma op die R200-noot geskryf.

“Sal graag wil weet watse roete hierdie R200 gemaak het. Ons het hom in Witbank gekry. Sal graag wil weet wat is die storie agter dit (sic),” het sy geskryf.

Teen Woensdagmiddag was die inskrywing bykans 700 keer gedeel en Celia Geldenhuys (47), die einste Celia aan wie die boodskap op die noot gerig is, het na vore gekom. Sy het kommentaar gelewer by die foto op Facebook en so al die bespiegeling oor die boodskap tot ’n einde gebring.

Geldenhuys, ook van Emalahleni, het eers Dinsdagaand bewus geword van die rumoer op Facebook oor die R200-noot toe haar seun, Wenzel, haar daarvan vertel het.

“Ons het op 24 Januarie by Charlie’s Pub & Grill in Witbank gekuier en Symphony Duo het daar opgetree. My dogter het ’n versoek vir ’n liedjie op daai R200 geskryf – die liedjie was opgedra aan my,” het Geldenhuys Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Die liedjie wat Marlize Geldenhuys daardie aand aan haar ma opgedra het, “Ons word een” van Juan Boucher, is een van Celia se gunstelinge.

Symphony Duo het die oorspronklike liedjie gespeel en Marlize het saamgesing.

Yvette Smit wat die foto van die R200-noot op Facebook geplaas het om die raaisel daaroor te probeer oplos.

“Dit was lekker pret. Een van ons vriende het uit snaaksigheid die noot uitgehaal,” sê Geldenhuys.

Dit was ook nie die eerste keer dat haar dogter só iets vir haar doen nie.

“Ek is baie dankbaar dat my kinders. Ons is baie close.”

Geldenhuys is wel verbaas dat die noot ná twee maande skielik weer sy verskyning gemaak het.

“Ek het nie gedink dit sal so travel nie.”

Yvette glo egter dit was ’n gelukkige toeval dat die noot by haar uitgekom het en sy wil dit graag aan Geldenhuys terugbesorg, “want dit het dalk sentimentele waarde”.

Intussen lê die R200-noot nog op haar kombuistafel.

“Dit is interessant om nou te weet waar dit vandaan kom.”

Meer oor:  Johan Smit  |  Emalahleni  |  Boodskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.