Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geheimsinnigheid omhul Waterkloof-bevelvoerder se dood

Geheimsinnigheid omhul die skielike dood Dinsdag van brig.genl. Motlhokomedi Kenneth Petso, bevelvoerende generaal van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria.

Brig.genl. Kenneth Petso, bevelvoerende generaal van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria.Foto: Verskaf

Al wat in hierdie stadium amptelik oor sy dood bekend is, is dat hy Dinsdag gesterf het en sy lyk in die Ga-Rankuwa-lykshuis noord van die stad is. Dis onseker of hy vermis geraak en sy liggaam toe later daar gevind is. Brig.genl. Hilton Smith, direkteur van die Suid-Afrikaanse Lugmag se korporatiewe personeeldienste, het Vrydagaand gesê die omstandighede rondom Petso se dood word ondersoek, maar dat die lugmag nie nou meer inligting daaroor bekend kan maak nie. “Sy familie is nog geskok en in rou.”

Kapt. Matthew Nkoadi, woordvoerder van die Ga-Rankuwa-polisiekantoor, het gesê hy dra nie kennis van Petso se geval nie.

Smith het gesê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is “hartseer oor Petso se ontydige dood”.

Hy het ’n lang loopbaan in die weermag gehad. Petso het in 1987 by die voormalige Bophuthatswana-weermag aangesluit en in 1993 as vlieënier gekwalifiseer. Met die aanbreek van die nuwe bedeling in 1994 is hy as ’n tweede luitenant in die Suid-Afrikaanse Lugmag geïntegreer. Hy is in 1995 tot luitenant bevorder.

Brig.genl. Kenneth Petso, bevelvoerende generaal van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria, het ’n lang en suksesvolle loopbaan as vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag gehad.Foto: Facebook

In 1997 is hy na 41 eskader ontplooi om die Cessna 208 (C-208) en Pilatus-vliegtuig (PC-12) te vlieg. Petso het in 1998 kaptein geword. Hy is in 2000 gekies om ’n vlieënier-instrukteurskursus te doen. Drie jaar later is hy na die lugmagbasis in Langebaanweg oorgeplaas. Petso is dieselfde jaar, terwyl hy nog by die vliegskool was, tot majoor bevorder.

In 2007 het hy bevelvoerder van 41 Eskader geword en is nog dieselfde jaar tot luitenant-kolonel bevorder. In 2008 het hy sy senior personeelkursus in die VSA by die Lugoorlog-kollege in Alabama voltooi. Petso het in 2010 bevelvoerder van die Langebaanweg-lugmagbasis geword en is dieselfde jaar tot kolonel bevorder. Hy is vyf jaar later tot brigadier-generaal bevorder en het toe ook bevelvoerende generaal by Waterkloof geword.

Smith het Vrydagaand gesê begrafnisreëlings sal bekend gemaak word sodra dit met die familie bevestig is.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en ander hooggeplaastes soos genl. Solly Shoke, hoof van die SANW, en lt.genl. Fabian Zimpande Msimang, hoof van die lugmag, het hul meegevoel met Petso se familie, kollegas en vriende betuig.

Brig.genl. Kenneth Petso, bevelvoerende generaal van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria. Geheimsinnigheid omhul sy dood Dinsdag.Foto: Facebook
Meer oor:  Waterkloof-Lugmagbasis  |  Pretoria  |  Polisie-Ondersoek  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.