Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gekweste buffel deurboor jagter

“Bokka, ek is lief vir jou . . . maar ek het baie seergekry.”

Ronel Kloppers-Pieterse (41) kon Vrydag aanvanklik nie haar verloofde, Bossie Mostert (39), se telefoonoproep verstaan nie.

Bossie Mostert, ’n professionele jagter in die noorde van Limpopo, is ernstig beseer nadat ’n buffel hom gegaffel het. Foto: Facebook

Mostert, ’n professionele jagter van Limpopo, het haar van onder ’n bos gebel, waar hy met gapende wonde geskuil het nadat ’n gekweste buffelbul hom gegaffel het.

Mostert was toe reeds vier dae lank op die spoor van die buffel. ’n Amerikaanse kliënt van Mostert se onderneming, Limpopo Big Game Safaris, het die buffel verlede Dinsdag gekwes.

Mostert bedryf sy onderneming al vir meer as 12 jaar, sê Ronel.

Die jagtog was op ’n wildplaas in die Waterpoort-omgewing noord van die Soutpansberg.

Mostert het dadelik na die buffel begin soek, maar kon hom glad nie kry nie.

Volgens Ronel moes die klant die buffel skrams getref het.

Eers teen Donderdag het die buffel moeg geword en op een plek begin sirkel.

Mostert het Vrydagoggend met nog professionele jagters afgespreek om op bystand te wees sodat die buffel van kant gemaak kan word sodra hulle ’n definitiewe spoor kry. Hy en twee spoorsnyers het om 06:00 begin spoorsny en omstreeks 08:00 het hulle die buffel in ’n beboste gebied vasgekeer.

Mostert het die ander jagters gebel om te kom help.

Ek het nie geweet of ons net minute oor het en of ek hom daar moet gaan groet en of ek hom by die hospitaal moet kry nie.
Ronel Kloppers-Pieterse

Terwyl hy gewag het, sê Ronel, het die buffel uit die bosse op Mostert en die spoorsnyers afgestorm. Mostert het ’n skoot geskiet, maar dit was mis. Die volgende oomblik was die buffel op hom en is hy deur die lug geslinger.

Ronel sê die buffel het Mostert met sy horings opgetel en sy lyf twee keer deurboor – een keer van onder sy regterknie tot in sy bobeen en toe van sy maag tot amper by sy longe. Hy kon met die tweede slag onder laaghangende bosse wegkruip.

Hy het later in die hospitaal vir Ronel vertel hoe die buffel, daar in die bosse, vir hom bly staar het terwyl hy om hulp gebel het. Die spoorsnyers het ook vir Ronel vertel hoe die buffel daarna na hulle gedraai en aangegluur het voordat hy weggeloop het.

Mostert het die ander jagters geroep om te kom help. Hulle was sowat ’n kilometer verder met die honde.

Terwyl Mostert gewag het, het hy vir Ronel gebel.

Dié buffelbul is van kant gemaak.

“Ek het eers nie verstaan nie. Toe ek besef hy het seergekry, het ’n koue gevoel oor my gekom . . . Ek het nie geweet of ons net minute oor het en of ek hom daar moet gaan groet en of ek hom by die hospitaal moet kry nie,” sê Ronel.

Wat volgende gebeur het, beskryf sy as ’n absolute wonderwerk.

Die ander jagters het Mostert dadelik gaan help en met hom na die Zoutpansberg- privaat hospitaal in Louis Trichardt, sowat 60 km verder, deurgejaag. Met sy aankoms was die dokters gereed om Mostert te help en is sy ergste wonde ontsmet.

Vandaar het hulle hom na die Mediclinic Tzaneen gehaas waar hy ’n noodoperasie van twee uur lank ondergaan het.

Mostert se diafragma, asook sy knie en been was erg beseer.

“Buiten daarvoor en ’n skraap aan sy dikderm was die res van sy organe ongeskonde,” sê Ronel.

Mostert het Maandag nog ’n operasie ondergaan om die skade aan sy been te herstel. Hy sterk nog in die waakeenheid aan.

“Weens die beseerde diafragma sukkel hy met sy asemhaling en praat hy nog nie so baie nie, maar hy is goed op pad na herstel,” sê Ronel.

Die buffel is sowat 300 m van waar hy Mostert gegaffel het, van kant gemaak.

Meer oor:  Limpopo  |  Jagter  |  Buffel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.