Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde boer neem eie lewe ná droogte van 10 jaar

Die uitmergelende droogte wat reeds tien jaar lank die Namakwaland teister, het “heel waarskynlik” daartoe gelei dat ’n boer sy eie lewe geneem het.

Vragte noodvoer word verlede maand op Springbok in die Namakwaland afgelewer. Die droogte van tien jaar lank het boere hier op hul knieë en het waarskynlik tot die selfdood van Frikkie van der Poll, ’n boer van Nababeep, aanleiding gegee. Foto: Verskaf

Frikkie van der Poll (62) van Nababeep in die Noord-Kaap se “rooibeeste” (Afrikanerbeeste) en sy Hackney-perde was sy lewe en die langdurige droogte het sy tol emosioneel begin eis, sê sy familie en vriende.

Sy roudiens was verlede Saterdag op Nababeep nadat hy die vorige Sondag sy eie lewe geneem het. Hy en sy skaaphond, Boeta, was ’n bekende gesig hier. Boeta het oral saam met hom in die bakkie gery.

Die landbougemeenskap rou oor ’n geliefde boer en perdeteler, terwyl die woede oplaai omdat die boere nie ramphulp kry nie. Baie boere trek net hul plaashekke toe en trek weg.

Sy gewese vrou, Wilma, sê hulle “vermoed so, ja” dat die droogte wat reeds van 2009 af hier duur, tot Van der Poll se dood gelei het.

“Hy was baie lief vir sy rooibeeste. Sy selfoonboodskap het ook gelui: ‘Hallo, jis. Dis Frikkie van der Poll. As jy my soek, het ek nie sein nie. Ek is by my rooibeeste.’ ”

Frikkie jr. sê die droogte het “heel waarskynlik” bygedra tot sy pa se besluit om homself om die lewe te bring.

“Hy het gepraat daaroor. Ons het saam geboer. Die droogte knou ons vreeslik. Dit was dalk nie die direkte oorsaak nie, maar kon bygedra het tot sy dood.”

Sy pa boer reeds hier vandat hy 18 jaar oud is.

Danie Jacobs van Agri-Namakwaland sê die tragedie van die burokratiese rompslomp om rampdroogtegebiede te proklameer, is dat die mense wat dit moet doen ná die verkiesing verander het. Georganiseerde landbou moet van voor af met nuwe politieke leiers in die Noord-Kaap hieroor onderhandel.

“Die lus om iets te doen vir die boere in die droogte het algeheel verval.”

My laaste reën was in Maart en April 2018, maar toe het ek nie eens 50% van die jaarlikse gemiddelde reënval van 120 mm hier gehad nie.
Danie Jacobs van Agri-Namakwaland

Die Namakwa-distrik is tot rampgebied verklaar, maar dit is ’n gesukkel om die ZF Mgcawu-distrik, wat die gebied rondom Olifantshoek insluit, en die Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteit, wat Britstown, Carnarvon, Colesberg, De Aar, Griekwastad, Hanover en Strydenburg insluit, ook tot rampgebiede te verklaar.

“Dit is nou tien jaar van droogte terwyl die burokratiese rompslomp voortduur. My laaste reën was in Maart en April 2018, maar toe het ek nie eens 50% van die jaarlikse gemiddelde reënval van 120 mm hier gehad nie.”

Jacobs sê die droogte het beslis ’n invloed op Van der Poll se gemoedstoestand gehad. Hoewel dit nie die enigste rede was nie, was dit dalk “die laaste strooi wat die kameel se rug geknak het”.

Liza-Mari Smit van AfriForum sê hul tak in Aliwal-Noord het reeds 11 vragte noodvoer op Springbok afgelewer. Vrydag is nog ’n vrag afgelewer. Hulle kom heeltyd voor toe deure te staan om distrikte tot rampdroogtegebiede verklaar te kry, maar selfs dit beteken nie dat die boere hulp gaan kry nie.

“Die hele Noord-Kaap moet eintlik tot rampgebied verklaar word.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Boer  |  Landbou  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.