Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde NG leraar sterf aan Covid-19
Ds. Marius en Mariana Lourens. Foto: Facebook

’n Oos-Kaapse predikant, ds. Marius Lourens (64) van die NG gemeente Vanstadensrivier, is dood nadat hy twee weke lank in die hospitaal was met Covid-19.

Lourens se dogter, Elené Lourens-Botha (30), het Saterdag vertel van hul gesin se hartseer om op so moeilike manier afskeid te neem van haar pa.

“My pa het kortasem geraak en het al die algemene simptome van die virus gehad. Hy het regtig nie gedink hy gaan so siek raak nie. Hy het gedink as hy Covid-19 kry, sal dit iets wees wat hy net kan wegblaas,” sê Elené.

Lourens se vrou, Mariana (58), het hom twee weke gelede die Vrydagaand na die St. George-hospitaal in Port Elizabeth gebring waar hy dadelik opgeneem is. Vyf dae later is hy verskuif na die hoësorgeenheid. Omdat dit onmoontlik is om pasiënte met Covid-19 te besoek, was dit die laaste keer dat die egpaar naby aan mekaar toegelaat is en hy nog wakker genoeg was om te kon gesels.

Vrydagaand, toe hy op sterwe was, is die gesin toegelaat om hom te gaan groet.

Mariana, asook Elené en haar vrou, Liné Lourens-Botha, was daar tot Lourens omstreeks middernag dood is.

Die egpaar se seun, Jean (26), oudste dogter, Marlene (32), en haar man, Christie Germishuys, het deur regstreekse stroming ook ingeskakel om hul pa te groet.

Lourens was sedert 1987 die predikant van die Vanstadensrivier-gemeente. Hy was ook bekend om sy skilderkuns, later ook beeldhouwerke. Hy het musiekopleiding gehad en was baie lief vir musiek.

Op sosiale media het talle mense reeds medelye betoon oor Lourens se afsterwe.

• Charl Slater skryf op Facebook: “Ek het nie woorde nie. Ek’t opgekyk na Oom. Want Oom was altyd net goed gewees. Liewe Jesus het sy Ster kom haal. RIP Gaan daai smile baie mis.”

• Arne Botha sê: “Tragies en hartseer. Marius was nie net ons familie se dominee nie, hy was ons familie vriend. Sterkte vir die hele gesin. Rus in Vrede.”

• Elma Kloppers: “Dit is ’n tragedie. Ds. Marius was ’n kosbare juweel. Innige simpatie aan sy familie.”

• Joan Loftie-Eaton skryf: “Ek is so jammer om dit te hoor sal hom baie mis – die Here het nou ’n baie talentvolle man wat so mooi kon sing en skilder by hom – en sy preke sal ek ontsettend mis.”

Die Lourens-egpaar het die afgelope agt jaar ook die Swan Lake Gardens, ’n trou-venue, asook onthaal- en piekniekplek, in Theescombe, Port Elizabeth, bedryf.

Rapport het in Oktober berig oor ’n unieke kunsprojek wat hulle tydens inperking begin het en werknemers van Swan Lake Gardens het saam met Lourens begin kunswerke maak.

Ds. Marius Lourens met die beelde wat hy en werknemers by die Louw-egpaar se onthaalplek tydens die inperking gemaak het.Foto: Rapport

Lourens het toe gesê: “Covid-19 het ons soos ’n derde wêreldoorlog getref en eenvoudig begin afmaai voor die voet.

“Ons kon in ’n staat van hibernering ingaan en in die loopgrawe van die donkerheid verval het. Of ons kon ons kreatiwiteit op die proef stel en iets nuut skep.

Ons het die tweede opsie gekies. Baie nuwe uitvindings in die lewe het juis ontstaan as mense aan die einde van ’n doodloopstraat beland het.”

Lourens het die uitstalling die Republiek van kwaranTUIN gedoop.

Die Lourens-gesin is nog besig met die reëlings vir ’n begrafnisdiens. Elené het gesê met die nuwe inperkings in die gebied, sal hulle ’n plan maak om die diens te kan uitsaai op sosiale media.

Meer oor:  Oos-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.