Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde Oranje-beampte in ernstige ongeluk
Deirdre Cloete (links) en Johanette Jacobs, twee onderwyseresse van die Hoër Meisieskool Oranje, was onder die besoekers wat Maandag by die skool se sekuriteitsbeampte, Hans van der Berg, in die Pelonomi-hospitaal ingeloer en hom ’n spoedige herstel toegewens het.Foto: Mlungisi Louw

’n Geliefde sekuriteitsbeampte by die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein sal Dinsdag hoor of hy moontlik die gebruik van sy linkervoet gaan verloor.

Hans van der Berg (62), onder almal bekend as oom Hans, was Saterdagoggend op die hoek van Parfitt-rylaan en Kelnerstraat in ’n ongeluk betrokke en is daarna in die Pelonomi-hospitaal opgeneem.

Volgens hom het ’n aankomende voertuig teen ’n vinnige spoed oor ’n rooi verkeerslig gery en teen hom op sy motorfiets vasgery.

“My voet het sleg seergekry. Die dokters sal môre (Dinsdag) ’n besluit neem of hulle dit dalk sal moet afsit. My regterskouer is gebreek en my linkerskouer en linkerknie gekraak.

“Ek verneem die motorfiets wat ek pas gekry het, is afgeskryf,” sê Van der Berg. Hy werk al 16 jaar by die skool en was behalwe ná ’n hartaanval in 2006 nog selde afwesig by die werk.

Hy is reeds Maandag by die skool gemis, sê twee onderwyseresse, Deirdre Cloete en Johanette Jacobs, wat hom in die hospitaal besoek het.

“Ons mis hom. Toe ek vanoggend by die skool kom, het ek dadelik gedink: ‘Waar is Hans?’

“Hy is so deel van die skool en dra Oranje op die hart. Die kinders en ouers is, nes ons onderwysers, baie besorg oor hom. Hy behandel almal met die grootste respek,” sê Cloete.

Oom Hans is baie gelief en soveel ouers, oudleerlinge en huidige leerlinge vra oor sy welstand uit.

Volgens Jacobs is Van der Berg iemand wat ’n hoë werksetiek openbaar in die uitvoer van sy pligte. “Hy kyk só mooi na die kinders en sal by die meisies staan en wag totdat hul ouers hulle by die skool kom oplaai,” sê Jacobs.

Die skoolhoof, Anne-Marie Klink, wat Maandag saam met die onderhoof, Lucia Theron, ook by die Pelonomi-hospitaal was, sê Oranje het ’n fonds vir Van der Berg se mediese uitgawes gestig. Mense kan die skool bel om bydraes te maak.

“Oom Hans is baie gelief en soveel ouers, oudleerlinge en huidige leerlinge vra oor sy welstand uit. Een van die klasse het reeds geld vir hom ingesamel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.