Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde polisiehond verloor stryd teen kanker
Bonzo in aksie tydens ’n demonstrasie deur Port Alfred se polisie-honde-eenheid. Foto: Verskaf

Bonzo, ’n Oos-Kaapse polisiehond wat meer as ’n miljoen rand se gesteelde eiendom uitgesnuffel en bykans 50 verdagtes aangekeer het, het sy stryd teen kanker verloor.

Ao. Tertius Neethling en sy vierpotige kollega, Bonzo. Foto: Verskaf

Dié geliefde polisiehond het vir ses jaar aan die sy van ao. Tertius Neethling in Port Alfred se honde-eenheid gedien.

In dié tydperk het hy ook twee perlemoenstropers hoog in die duine vasgetrek, asook R51 600 se perlemoen en R40 000 se duiktoerusting gevind.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, sê ondanks misdadigers se skoppe en houe, kon Bonzo altyd help om hulle in hegtenis te neem.

’n Inwoner van Port Alfred het Bonzo aan die polisie geskenk en sy potensiaal as polisiehond was op ’n jong ouderdom reeds duidelik.

“Hy was ’n hondjie vol krag, energie en nuuskierig. Hy het vir almal rondom hom baie vreugde gebring,” het Govender gesê.

Ondanks sy maagprobleme wat hom gou uitgeput het, was Bonzo altyd gretig om te werk.

Maar weens mediese redes het die proses vir Bonzo se aftrede vroeg in Januarie begin. Teen 4 Februarie het hy amptelik by die polisiediens uitgetree, waarna Neethling hom gekoop het om by sy huis te laat rus.

Bonzo, een van Port Alfred se polisie-honde-eenheid se voormalige lede, het sy stryd teen kanker verloor. Foto: Verskaf

Neethling het Vrydag egter besef Bonzo sukkel om op te staan en te lê.

By die veearts is bevind Bonzo het ’n kankergewas aan sy pankreas.

Gedurende ’n operasie om die groeisel te verwyder is vasgestel dat elke orgaan in Bonzo se liggaam deur die kanker aangetas is.

“Daar was niks wat sy (die veearts) vir hom kon doen nie en hy het erge pyn verduur. Sy het die wond toegemaak en hom wakker gemaak sodat sy familie van hom kan afskeid neem voordat hy uitgesit is.”

Neethling het dié dag as een van die hartseerste van sy lewe beskryf.

“Bonzo was nie net my vennoot nie, hy was ’n held en ’n ware vriend. Ek gaan hom mis,” het Neethling gesê.

Terwyl Dinsdag van Bonzo afskeid geneem is, het brig. Morgan Govender, bevelvoerder van die Port Alfred-polisiegebied, ook gesê die polisie sal hom mis.

“Vaarwel, dapper kollega. Jy was ’n vegter en lojaal teenoor die polisie. Jy sal altyd onthou word vir jou lojaliteit en toewyding. Dit is jou tyd om te rus.”

Meer oor:  Kankerstryd  |  Polisie  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.