Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde Pretoriase ‘koerant-oom’ doodgery

Lede van die skoolgemeenskap van die Laerskool Wonderboom in Pretoria het Vrydag hul medelye op sosiale media uitgespreek nadat hul geliefde “koerant-oom” Vrydag in ’n ongeluk naby die skool dood is.

Die polisie op die toneel waar ’n geliefde “koerant-oom” Vrydag doodgery is.

Johannes Kgatle (63) van die On the Dot-verspreidingsdiens was byna altyd op sy pos in Elizabethstraat op die hoek van die skool, waar hy koerante en tydskrifte verkoop het.

Sy plek by die verkeerslig sal egter nou leeg wees nadat ’n bejaarde motoris hom omgery het toe hy oor die pad wou hardloop.

Verskeie mense het Vrydag op sosiale media beweer Kgatle het van rowers probeer weghardloop. Die polisie vermoed egter geen vuilspel nie.

Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê lede van die polisie het met ooggetuies op die toneel gepraat en dié het niks oor rowers gesê nie.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

Gerda Klopper, ’n ouer van die skool, sê Kgatle is jare lank nou al ’n bekende gesig vir ouers en leerlinge. Volgens haar het die tragedie voor die begin van die skooldag gebeur. Die skool kon ouers per selfoonboodskap betyds waarsku om die ongelukstoneel te vermy.

“My seuntjie sê ook juffrouens het mooi met die klas gepraat oor wat gebeur het. Hy sê al sy maatjies het ook oor die oom gepraat,” sê Klopper.

Volgens haar was Kgatle geliefd in die skoolgemeenskap.

“As dit gereën het, het iemand gesorg dat hy ’n sambreel kry. Ons het ook op die skool se WhatsApp-groep die nuus gedeel en aan planne gedink hoe ons sy familie kan bystaan,” sê Klopper.

“Die oom was byna altyd op sy pos. Hy was vriendelik en sou groet as mense verbyry,” sê sy.

Jessica Greeff, verspreidingsbestuurder by On the Dot, sê Kgatle se familie was Vrydag op die toneel.

“Ons het besluit om die familie vir eers nie te nader nie. Ons wil hulle kans gee om te rou,” sê Greeff.

Volgens haar sal die maatskappy volgende week met die familie in verbinding tree.

Greeff sê in die drie jaar wat sy verspreidingsbestuurder is, is dit die eerste keer dat ’n koerantverkoper in Pretoria doodgery word.

Meer oor:  Pretoria  |  Ongeluk  |  Doodgery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.