Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde Rapport-verkoper sterf

Sy gaan Sondag self sy plek vol staan en vir die mense vertel wat van “oom Marius” geword het.

Marius en Marietjie Ehlers

Só sê Marietjie Ehlers (59) van Pretoria nadat haar man, die geliefde Rapport-verkoper Marius Ehlers (63), verlede Sondag op sy pos gesterf het.

Marietjie verkoop ook koerante en het gedog die man wat net ná 07:00 na haar toe aangejaag kom, is ’n kliënt.

“Hy het gevra: “Is dit tannie se man wat verkoop op die hoek van Witdoring en Rubenstein?’ en ek het ja gesê. Hy het gesê ek moet gou kom, my man het inmekaargesak.”

Marietjie het 45 minute lank toegekyk hoe paramedici haar man probeer bybring, maar hy is later dood. “Hulle het vir my gesê ek moet met hom praat. Ek het vir hom gesê ‘jy kan my nie los nie . . .’ en ek het hardop begin bid.”

Sy sê Marius het verlede jaar ’n bietjie probleme met sy hart gehad, maar het weer gesond geword en goed gevoel. “Hy het Saterdag winkel toe geloop en ’n blackout gehad en hom stukkend geval. Ek het vir hom gesê hy moet Sondag by die huis bly, maar hy wou gaan, hy het geweet ons het die geld nodig gehad. Ons het 02:30 Sondag opgestaan en is later opgetel. Ek word net voor hom afgelaai en hy het altyd vir my gesê: ‘Sien jou later en ek hoop jy het ’n goeie verkopedag.’ Sondag het hy vir my gevra of hy my kan help en toe hulle om die sirkel ry, net so snaaks vir my gekyk . . . Ek het gedink hy het maar vergeet om vir my te sê ‘sien jou later’.”

Toe hy twee maande gelede ’n ligte hartaanval gehad het, het hy vir Marietjie laat belowe dat as hy ooit iets oorkom, sy self op sy plek sal gaan staan en vir mense vertel wat gebeur het. Sy sê koerante was sy passie. “Hy het nie eens Lotto gespeel nie, maar het altyd geterg selfs al wen hy die Lotto, sal hy steeds koerante verkoop. Hy was so lief vir van sy kliënte.”

Marius Ehlers (39), sy seun, sê die een ding wat hy altyd van sy pa sal onthou, is dat hy alles vir sy familie gedoen het. “Die familie kom eerste en jy sit nie net en wag nie, jy gaan uit en jy laat dinge gebeur en werk daarvoor.”

Marius word Dinsdag 10:00 vanuit die Koinonia Christensentrum in Hercules, Pretoria, begrawe. Hy word oorleef deur sy vrou, seun en drie dogters – Cindy Nel (36), Gerty Ehlers (35) en Santana Heck (33).

Meer oor:  Pretoria  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.