Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde sakelegende van Rosestad gegroet

Albert de Klerk, een van Bloemfontein se sakelegendes, word vandag begrawe. Hy is Maandag op 83-jarige ouderdom oorlede.

De Klerk, stigter-eienaar van die nommerplaat-en-letterskilderonderneming Sign Centre in die middestad, het onlangs ’n beroerte gehad en in sy huis geval. Hy het erg verswak en is in die operasieteater dood toe dokters ’n voedingsbuis in sy maag wou plaas, sê sy seun, ook Albert.

De Klerk is in Harrismith gebore en het daar grootgeword. Ná skool het hy hom by die lugmag in Valhalla aangesluit en ’n vlieënier geword.

In 1974 het hy sy eerste sakeonderneming, Motoden, in Aliwalstraat in Bloemfontein geopen en een van die stad se eerste handelaars in tweedehandse voertuie geword.

Nadat hy in 1983 deur die owerheid ingelig is hy mag nie onder een dak voertuie verkoop én nommerplate maak nie, het hy die nommerplaat-en-letterskilderbedryf gekies en Sign Centre in die ou bioskoopgebou in die destydse Voortrekkerstraat begin.

In 2006 het dié onderneming verskuif na die hoek van Nelson Mandelarylaan en Aliwalstraat, waar dit vandag steeds deur sy seuns, Albert en Mario, bedryf word.

Tussen sy sakebedrywighede deur het De Klerk sy passie vir vlieg uitgeleef.

Hy het jare lank sy eie vliegtuig besit en het as reserwemagvlieënier van Bloemspruit se 106 Eskader ván regters tot weermaghoofde oor die land heen gevlieg vir afsprake en verpligtinge.

De Klerk en sy vrou, Mar­lene, met wie hy langer as ’n halfeeu getroud was en wat in 2014 oorlede is, was ook ywerige reisigers en kampeerders.

Hy was een van ’n handjievol Suid-Afrikaners wat ’n duursame en skaars P’Zazz-woonwa besit het en was ’n lid van die P’Zazz-versamelaarsklub.

Albert sê sy pa was ’n streng en beginselvaste, maar regverdige ouer en sakeman.

“Ons is hom baie dankbaar vir alles. Hy het ’n vol lewe gehad.”

Die begrafnisdiens is vandag om 14:00 in die NG kerk Fichardtkruin, waarna De Klerk by sy vrou in die Bainsvlei-begraafplaas ter ruste gelê sal word.

Hy word ook oorleef deur twee dogters, Lynette Joubert, ’n prokureur in die stad, en Desiree Havenga, wat lank by die familieonderneming gewerk het, asook vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.