Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geliefde stenograaf van N-Kaap op troosdiens gehuldig

Marthie Evering (64), wat aan die einde van Februarie ná meer as 30 jaar se diens as stenograaf in Noord-Kaapse howe sou aftree, is Woensdag op haar troosdiens gehuldig as “iemand wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie”.

Marthie Evering (64)Foto: Verskaf

Sy is op 10 Januarie in die hospitaal dood nadat sy ’n beroerte gehad het.

Volgens adv. Sharon de Villiers, waarnemende griffier wat ’n huldeblyk op die troosdiens gelewer het, was Evering “die enigste mens wat ’n verlore saaklêer kon opspoor”.

“Wanneer iemand anders ’n verlore lêer kon opspoor, sou hy trots gesê het dat hy ’n Marthie op homself getrek het.

“Marthie was die staatmaker in die kantoor. Sy sou altyd vir iemand instaan, selfs as sekretaresse, indien daar ’n personeeltekort ontstaan het.”

Sy sou binne ’n halfuur pak om na die rondgaande hof te vertrek om oor die uitgestrekte provinsie heen te werk.

“Sy het ver paaie gery om in die rondgaande hof te werk. Haar gunsteling-plek was Springbok. Sy was in elke landdroskantoor gelief, en het altyd in dieselfde gastehuise oorgebly, waar sy al ’n lojale ‘familielid’ was. Sy het geweet waar ’n mens in elke dorp iets lekkers kan koop.

“Marthie het nooit ’n masker gedra nie, sy het sonskyn oor ander gebid ten spyte van haar eie hartseer en bekommernisse, en het die lewe gesien as ’n geleentheid vir vrugbare arbeid. Haar hart was op die regte plek.”

Sy was nooit teneergedruk of afsydig nie.

“Haar gesig het gestraal wanneer sy oor veral haar kleinkinders gepraat het.”

Evering word deur haar man, Stan, drie kinders, Angelique van der Linde en Quentin en Basil Chambers, skoondogters en sewe kleinkinders oorleef.

Volgens Van der Linde was haar ma streng maar regverdig.

Evering het haar loopbaan as tikster in die landdroshof begin.

“My ma was ’n liefdevolle mens en gek na die kleinkinders.”

Evering het haar loopbaan as tikster in die landdroshof begin, en ook vir maatskappye gewerk wat transkribeerwerk vir die hof gedoen het, voordat sy tien jaar gelede heeltyds as stenograaf aangestel is.

“By haar troosdiens kon ek sien hoe gelief sy onder haar kollegas was. Hulle het die helfte van die kerk vol gesit, onder wie regters, aanklaers en ander regspraktisyns,” sê Van der Linde.

“Sy wou nog in Desember, toe sy so siek geraak het, op die rondgaande hof gaan om almal in die dorpe voor haar aftrede te gaan groet.”

Evering sou ook vir ’n paar maande ná haar aftrede by haar kleinkinders in Port-Elizabeth gaan kuier het.

Meer oor:  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.