Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Geloof dra gesin nadat seun van brug val met fiets

Geloof is die anker wat hoop bring vir ’n gesin van Secunda in Mpumalanga nadat ’n tienerseun in ’n fratsongeluk met sy fiets was.

Liezel Smith, ma van Arlo Smith (14), sê wat vir die mens onmoontlik is, is vir God moontlik.

“Ons bid onophoudelik vir Arlo. Ons glo in God en in sy wonderwerke. Hy sal vir Arlo deur hierdie moeilike tyd dra en genesing vir hom bring,” sê Smith.

Arlo het op 23 September saam met sy maats gaan fietsry toe hy in ’n fratsongeluk van ’n brug geval en albei sy elmboë vergruis het.

Arlo Smith (14), ’n tienerseun van Secunda wat in ’n fratsongeluk met sy fiets was, voor die ongeluk.

Smith vertel dat hy nog daardie Woensdagmiddag rugby sou gaan oefen, maar weens Covid-19-regulasies is die oefening gekanselleer. “Arlo het my toe gevra of hy saam met sy maats kan gaan fietsry. Ons is eintlik baie streng met ons seuns en gaan gewoonlik altyd saam, maar ek onthou ek het nie die dag baie lekker gevoel nie. Ek het nog buite in die pad gestaan en hy het teruggekyk om vir my te waai,” sê sy.

Dit is toe dat Smith bid en vra dat die Here haar kind sal beskerm.

Arlo het saam met drie maats gaan fietsry.

Minder as ’n uur later het een van sy maats se ouers gebel om haar in kennis te stel dat Arlo in ’n fietsongeluk betrokke was.

“Ek het gevra hoe ernstig dit is. Die maat se pa het toe gesê die ambulans is reeds op pad,” sê Smith.

Volgens haar was Arlo en sy drie maats nie ver van die huis af nie toe hulle agter die hoërskool in ’n paadjie afry.

“Daar is groen stroke vir kinders om aan die kant met hul fietse te ry. Terwyl hy sy maats nie op daardie oomblik gesien het nie, het Arlo alleen by die paadjie afgery. Hy het om ’n draai beheer oor sy fiets verloor en met ’n spoed teen ’n sementmuur gebots. Hy is toe meters ver deur die lug geslinger en het toe van ’n laagwaterbrug af in die spruit beland,” sê Smith.

Arlo Smith (14), ’n tienerseun van Secunda wat in ’n fratsongeluk met sy fiets was, Dinsdag voor ’n doktersbesoek.
Arlo Smith (14) kort nadat hy in ’n fratsongeluk betrokke was.

Volgens haar het sy maats toe onmiddellik hulp gaan soek.

“Een van die maats bly nie ver van waar die ongeluk gebeur het nie. Hy het toe sy pa om hulp gaan vra,” sê Smith.

Paramedici het Arlo na die Mediclinic Highveld op Trichardt gebring.

“Arlo is toe teater toe. Die operasie het vyf en ’n half uur geduur,” sê sy.

Arlo se elmboë is gebreek en vergruis, hy het ’n kopwond opgedoen en hy het moontlik ribbes gebreek.

Een van Arlo se wonde het ook weens die vuil spruitwater ontsteek.

“Arlo sal verskeie operasies moet ondergaan. Hy het reeds drie gekry. Die dokter het klaar vir ons gesê Arlo se daaglikse lewe sal nie weer dieselfde wees nie,” sê Smith.

Volgens haar is Arlo op 18 Oktober uit die hospitaal ontslaan en hy sterk nou by die huis aan.

“Arlo het nog baie pyn. Hy kla ook hy is konstant moeg en dat hy oor die algemeen nie lekker voel nie,” sê Smith.

Sy sê Arlo se geestesgesondheid is ook nie op die oomblik goed nie.

Sy vra dat Suid-Afrikaners vir Arlo sal bid sodat God ’n wonderwerk in sy lewe sal meebring.

Meer oor:  Arlo Smith  |  Liezel Smith  |  Secunda  |  Mpumalanga  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.