Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gemeenskap in rou ná fratsongeluk boer van Coligny eis

Nico Kilian (28) was ’n avontuurlustige boerseun in murg en been wat voluit geleef het en wie se hart oop was vir sy medemens.

So het sy pa, ook Nico, Maandag gesê oor die jong boer van Coligny in Noordwes wat Saterdag in ’n fratsongeluk naby Polokwane in Limpopo dood is.

Nico Kilian, sy vrou, Ané, en hul hond, Kwagga, op hul plaas naby Coligny in Noordwes.

Nico het Maandag gesê sy enigste seun se skielike dood voel nog onwerklik, maar dat die familie daarby berus. Kilian se dood is ook erg traumaties vir sy vrou, Ané, met wie hy skaars vyf maande getroud was.

“Ons almal gaan hom baie mis,” het Ané Maandag gesê.

Die Kilians is ’n gesiene en bekende familie in hul omgewing. Nico is ’n rekenmeester en VF Plus-raadslid in Schweizer-Reneke.

Nico Kilian tussen sy beeste.

Volgens hom het Ané en Kilian, asook hul vriend LC de Jager en sy vrou, Marilie, Saterdagoggend vroeg in die pad geval vir ’n wegbreeknaweek by ’n lodge naby Brits. Hulle is egter eers na ’n plaas naby Polokwane waar De Jager wou gaan kyk na ’n voertuig wat hy vir veldrenne wou koop.

“LC het bestuur terwyl hy en Nico alleen ’n ent met die veldrenvoertuig op die plaaspad gery het. Hulle het omtrent ’n kilometer en ’n half van die plaashuis gestop en die moontlike koop bespreek. Op pad terug plaashuis toe het LC om ’n skerp draai gerem. Hy het stewels aan gehad en die pedale is smal. Toe trap hy per ongeluk die petrolpedaal raak.”

Die voertuig het vorentoe geskiet en neus eerste in ’n sloot by die draai geland. Dit het vooroor geslaan en weer op sy wiele te lande gekom. Kilian het in die proses uitgeval en is op slag dood toe sy nek vermoedelik gebreek het.

“Hy het op die een of ander manier losgeskiet uit die harnas waarin hy vasgegespe was,” sê sy pa, Nico.

“Ons weet nie of die harnas se slot dalk nie reg was en of Nico homself moontlik nie behoorlik vasgemaak het nie.”

Nico Kilian (regs) en sy vriend, LC de Jager, vroeër by ’n veldrengeleentheid.

De Jager, wat in sy harnas gebly het, is nie beseer nie. “Hy voel baie sleg oor alles, maar dit was ’n fratsongeluk,” sê Nico.

Kilian was tot sowat twee jaar gelede De Jager, sy beste vriend, se navigator tydens veldrenne, maar het intussen ophou deelneem.

“Hy het later gevoel dit neem hom te veel weg van die plaas en Ané en dat dit ’n veiligheidsrisiko is,” sê Nico.

“NM, soos ons familie hom noem, het die afgelope nege jaar op ons familieplaas met skape, beeste, mielies en sonneblomme geboer. Hy was baie standvastig, gelowig en dinamies in sy boerdery. Hy was ’n liefdevolle familiemens, maar ook ’n perfeksionis. Op skool was hy ’n uitstekende sportman.”

Van links is LC de Jager, LC se pa, Ligte de Jager, en Nico Kilian vroeër by ’n veldrengeleentheid.

Kilian het in die bestuur gedien van Coligny se Helpmekaar-inisiatief ten bate van minderbevoorregtes. Ds. Tewie Pieters van die NG Oos-gemeente in Coligny waar hy diaken was, sê sy dood is ’n groot verlies en dat dit die plaaslike gemeenskap geruk het.

Kilian word ook deur sy ma, Petro, en suster, Petroné, ’n rekenmeester by hul pa se firma in Schweizer-Reneke, oorleef. Hy word Saterdag om 11:00 vanuit die NG Moederkerk in Coligny begrawe, waarna verversings by die Oos-gemeente bedien sal word

Meer oor:  Coligny  |  Boer  |  Dood  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.