Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gemeenskap trek saam nadat seun hoor hy't kanker
Tiaan Nel, matrikulant aan die Hoërskool Vredendal, het sowat drie weke gelede gehoor hy het kanker. Hy ontvang reeds chemoterapie in Kaapstad.

Die lewe van ’n plaasseun van Loeriesfontein het in ’n oogwink verander toe hy onverwags op ’n doktersbesoek hoor hy het kanker.

Tiaan Nel (17), ’n matrikulant aan die Hoërskool Vredendal wat oorspronklik van die Noord-Kaap kom, het die nuus gekry toe hy by die dokter was nadat hy by die skool geval het. Dié kanker het in daardie stadium ook reeds na ander dele van sy liggaam versprei.

Sy ma, Arina Nel, sê dokters het dadelik begin planne maak om hom te opereer en die behandeling vorentoe te bepaal omdat die testikulêre kanker toe reeds na ’n paar plekke in sy lyf versprei het.

Hy het Maandag in die onkologieafdeling van die Mediclinic Louis Leipoldt in Kaapstad met intensiewe chemoterapie begin. Dié behandeling word voorlopig vir die volgende ses weke beplan.

Tiaan sê hy was geskok en onseker toe hy hoor van die siekte.

“My klasmaats kon dit ook nie glo nie. Maar almal is geweldig ondersteunend en wil net help.”

Tiaan sê hy het veral na die rugby in sy laaste skooljaar uitgesien, “maar vir nou is rugby uit”, sê hy.

Volgens Nel bemoedig die jong mense haar seun deur gereeld boodskappe te stuur, te bel, te kom kuier en ook so nou en dan verrassingspakkies vir hom te stuur.

Tiaan Nel, by wie kanker sowat drie weke gelede gediagnoseer is. Hy ontvang reeds chemoterapie in die Kaap.

Hulle is egter nog onseker oor die res van sy skooljaar en weet nog nie hoe die behandeling hom gaan beïnvloed nie. “Die onkoloog het gesê hy sal nie kan skoolgaan wanneer hy behandeling kry nie,” sê sy.

Nel sê hulle is geskok, maar ongelooflik dankbaar vir die goedheid van mense van oral wat dadelik ingespring het om hulle as gesin deur die ding te dra. Daar is van gholfdae tot fliekaande en los donasies wat van vreemdelinge kom.

“Dis so oorweldigend om te sien hoe mense wil help, selfs mense wat ons nie eens ken nie,” sê sy.

“Dit wys net, mense se hart sit tog nog op die regte plek.”

Nel sê ook daar was ’n gebedsketting van 24 uur die dag voordat Tiaan met sy chemoterapie begin het.

“My ma, Bettie, het gesê as ons kan bid vir reën, dan kan ons seker bid vir Tiaan ook. En toe het die mense gebid.”

Burre Burger van die Droogte Hulp het ook sy stem laat hoor vir Tiaan.

“Tiaan het sommer self Donderdagoggend Burre se hare afgeskeer. Hy daag mense uit om dit ook te doen en help ook met die insameling van geld.”

Volgens Nel is haar seun ’n buitelugkind.

“Hy is altyd in die veld of saam met sy pa op die lorries, besig om te boer,” vertel sy.

“Hy is lief vir buite wees en veral rugby speel, maar dit moet nou alles ’n rukkie wag totdat hy weer gesond is.”

Tiaan Nel skeer Burre Burger se hare.

Meer oor:  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.