Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gemeente huil toe leraar vrou opdaag ná aanval

’n Bejaarde predikant wat Sondag getrou gaan preek het hoewel hy nog seer en vol bloukolle was nadat hy Vrydagmiddag die slagoffer van ’n plaasaanval was, is toegevou onder die liefde van sy gemeentelede.

Ds. Jan en Lettie Schroeder.Foto: Verskaf

“Hulle het gehuil van blydskap toe ek en my vrou by die kerk opdaag,” sê ds. Jan Schroeder (86) en sy vrou, Lettie (79), wat Vrydagmiddag op hul plaas, Boschhoek, sowat 7 km van Heidelberg in Gauteng, was toe die aanvallers toegeslaan het.

Schroeder is in sy melkstalle neergegooi en geskop en geslaan.

Maar dit het hom nie gekeer om Sondag getrou op die preekstoel te staan nie.

Die polisie stel ondersoek in by die melkstalle op die plaas Boschhoek naby Heidelberg, Gauteng, waar ds. Jan Schroeder en sy vrou, Lettie, slagoffers van ’n plaasaanval was.Foto: Verskaf

Die aanval op Schroeder Vrydagmiddag was die 28ste plaasaanval sedert November en in die eerste week van Desember, volgens die Eesruf-veiligheidsgroep wat statistieke oor plaasaanvalle in Suid-Afrika byhou.

Ná Vrydag se aanval op Schroeder was daar nog twee wat die getal nou op 30 te staan bring.

Schroeder sê hy het Sondag vir sy gemeente gesê “die hand van die Here was oor ons”.

Hy sê hy het vir sy gemeente by die Hervormde Kerk Suikerbosrand gesê: “Die duisternis kon nie die lig vernietig nie. Ek het dit gaan haal in Genesis waar daar duisternis met die skepping was en toe het die Here gekom en gesê ‘Laat daar lig wees.’

“Met die sondeval het weer duisternis gekom. Maar die Here het gekom en vir ons sondes gesterf en toe was daar weer lig. Ons moet in daardie lig lewe,” sê hy.

Schroeder sê die voorval het hom nie laat sleg slaap nie. “Ek slaap heerlik rustig.”

Hy sê sy kerk was Sondag volgepak.

Die kabeltou in die gras waarmee ds. Jan Schroeder van die Heidelberg-distrik vasgebind was.Foto: Verskaf

Schroeder sê hy was in die melkstalle toe hy Vrydagmiddag deur vier mans met klapmusse oorrompel, geskop en geslaan is. Hy is daarna vasgebind.

Hy sê hy was Vrydagmiddag omstreeks 17:00 na sy beeste op soek en dit het gelyk of hulle al op pad was na die stalle sodat hy hulle vir die nag kon toemaak.

“Dit was maar ’n normale dag. My vrou was in die huis. Die volgende oomblik was ek onderstebo soos wat die vier mans my omgegooi het.

“Hulle het eers my hande vasgebind en toe vat hulle my horlosie en sleutels. Hulle het toe ook my voete vasgebind.”

Hoewel Lettie in die huis was, het die aanvallers die sleutels van ’n waskamer en die motorhuis by hom afgevat.

“Hulle het gelukkig nie my selfoon gevat nie, want hy was in my boonste hempsak en ek het op my maag gelê.”

Die aanvallers is toe na die plaashuis, maar die deure was gelukkig gesluit.

“My vrou het nie lugtyd gehad nie en kon nie hulp ontbied nie.”

Een van sy plaaswerkers wat die hoenders kom versorg het, het op Schroeder afgekom en hom bevry.

“Die aanvallers, wat deur die honde en ganse gejaag is, het moontlik gevlug toe hulle die veewagters gewaar het wat die beeste gebring het,” sê hy.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê Schroeder is na die hospitaal geneem vir behandeling.

Sy vra dat enigiemand met inligting die tolvrye misdaadnommer 08600 10111 sal bel.

Meer oor:  Egpaar  |  Plaas  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.