Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Generaal-majoor ontslaan ná rassisme teenoor wit lede

’n Generaal-majoor  in die polisie wat op 7 November 2016 wit opleidingsbeamptes in die polisiekollege op Oudtshoorn met haar rassistiese opmerkings verneder het, is Donderdag uit die polisie ontslaan.

 Sandra Malebe-Thema
Genl.maj. Sandra Malebe-Thema is Donderdag uit die polisie ontslaan.

Ingeligte bronne oor die ondersoek teen genl.maj. Sandra Malebe-Thema het Vrydag gesê sy het Donderdag die kennisgewing van haar ontslag ontvang.

Malebe-Thema, wat tot Donderdag nog die hoof van basiese opleiding in die polisie was, is in Desember verlede jaar in ’n interne ondersoek aan rassisme skuldig bevind.

’n Groep polisie-opleidingsbeamptes het in Desember 2016 ’n kollektiewe grief teen haar ingedien en haar onder meer daarvan beskuldig dat sy hulle op 6 Desember 2016 voor honderde rekrute rassisties verneder en hulle oor hul gewig en kleredrag beledig het.

Die vakbond Solidariteit het in November 2016 ’n formele klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

In Mei 2017 het die vakbond hom tot die arbeidshof gewend in ’n poging om die polisie te dwing om ’n interne ondersoek teen Malebe-Thema te doen.

Sy het onder meer aangevoer dat wit opleidingsbeamptes “dink dat hulle te goed is om in laer range te werk en dat hulle korrup is”.

Adv. Sumayya Tilly, wat die voorsittende beampte van die tugkomitee was, het Malebe-Thema se ontslag aanbeveel nadat sy in Desember verlede jaar op drie klagte van ernstige wangedrag skuldig bevind is.

Kapt. Riana Viviers, ’n opleidingsbeampte by die polisiekollege op Oudtshoorn, het in Desember 2016 ’n saak van naamskending teen die Generaal-majoor ingedien nadat sy haar glo voor honderde rekrute en kollegas oor haar gewig en kleredrag beledig het.

Viviers het onder meer getuig dat sy so verneder en seergemaak gevoel het dat sy histeries begin huil en later so depressief geword het dat sy mediese hulp moes kry en later in ’n hospitaal opgeneem moes word.

Tilly het in die tugverhoor ook Malebe-Thema se opmerking dat die wit opleidingsbeamptes “korrup” is, as roekeloos beskryf.

Sy het gesê dat Malebe-Thema, “diskriminerend, neerhalend, ontoelaatbaar, onaanvaarbaar en onvanpas” opgetree het toe sy opmerkings oor ras en die opleidingsbeamptes se gewig gemaak het en dat dit “bedoel was om hulle te verneder, te beledig en om verdelend te wees”.

Anton van der Bijl van Solidariteit het aangevoer dat Malebe-Thema ook gesê het dat die sogenaamde diskriminasie teen swart kadette stopgesit sal word en dat daar te veel wit gesigte in opleidingsposte is.

Tilly het in haar uitspraak gesê Malebe-Thema se wangedrag is buitengewoon ernstig omdat dit neerkom op diskriminasie en dit ’n aanval op mense se menswaardigheid is. “Die erns daarvan kan nie misgekyk word nie.”

Daarbenewens het Tilly ook bevind dat Malebe-Thema geensins berou oor haar optrede getoon het nie.

Malebe-Thema het in die tugverhoor aangevoer dat sy niks verkeerd gedoen het nie, dat sy volstaan by wat sy gesê het en dat sy in die toekoms dieselfde sou doen.

Tilly het gesê Malebe-Thema se lang en skoon diensrekord het ’n mindere rol in haar skuldigbevinding gespeel. Haar optrede was na die hart van ’n werkverhouding en het die vertroue tussen werkgewer en werknemer geskend.

Sy het bevind dat haar opmerkings emosionele skade by die betrokke opleidingsbeamptes veroorsaak het. Dit het ook ’n negatiewe uitwerking op hul werk- en persoonlike lewe gehad.

Tilly het gesê dat Malebe-Thema as ’n senior polisievrou van beter moes geweet het en dat sy haarself daarvan moes weerhou het om diskriminerend, neerhalend en onvanpas teenoor haar ondergeskiktes op te tree.

Volgens Van der Bijl is dié saak een van die min gevalle waar geregtigheid geseëvier het in die geval waar ’n swart persoon blatant rassisties teenoor wit mense opgetree het. “Ons is uiteraard verheug oor die uitkoms, aangesien daar baie tyd ingesit en moeite deur Solidariteit gedoen is om te verseker dat die polisie hier korrek optree.”

“Hierdie is ’n interne aangeleentheid en is sodanig hanteer,” het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, by navraag gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.