Die Covid-19-pandemie het baie gesinne in ’n geldelike verknorsing gedompel en baie sukkel steeds om kos op die tafel te sit.
Die Genesis-projek, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, het besluit om kos aan behoeftige gesinne oor die land heen te skenk. Dié organisasie het reeds 350 000 etes geskenk.
Genesis is ’n organisasie wat ’n reeks wetenskaplik geformuleerde voedsel- en drankprodukte vervaardig om mense te voed wat onder uiterste toestande werk of leef en wat daarom spesifieke voedingsbehoeftes het.
Michelle Bristow, lid van die Genesis-span, sê die Covid-19-pandemie bedreig nou mense se reg tot voldoende kos en water.
“Ons het besef ons kan ’n bydrae lewer om ’n verskil in menselewens te maak en honger te verlig,” sê Bristow.
Bristow sê Laeveld Cares, ’n organisasie sonder winsbejag, het besluit om Genesis-produkte aan meer as 1 000 gesinne te skenk.
In Gauteng sal 500 gesinne gehelp word, 250 in Bloemfontein en 250 in die Wes-Kaap. Die skenking is genoeg om dié gesinne vir ’n maand te voed.
“In Gauteng sal 500 gesinne gehelp word, 250 in Bloemfontein en 250 in die Wes-Kaap. Die skenking is genoeg om dié gesinne vir ’n maand te voed,” sê Bristow.
Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê grondvlakstrukture gaan gebruik word om te verseker dat die produkte by die regte mense uitkom.
“Solidariteit Helpende Hand gaan ook help om gesinne te identifiseer wat die hulp werklik nodig het,” sê Cameron.
Corné Liebenberg, bemarkingsbestuurder van Laeveld Agrochem, sê alhoewel baie organisasies reeds oor ’n wye spektrum kospakkies skenk, gaan dit vir hulle oor die voedsaamheid van die kos.
“Ons help gemeenskappe en gesinne vir amper meer as 30 jaar, maar dié keer is die nood net soveel groter. En daarom beoog Laeveld Agrochem om ’n miljoen etes te skenk indien meer vennootskappe gesluit kan word,” sê Liebenberg.
Laeveld Agrochem is een van die borge vir die Genesis-projek.
Besoek michelle@genesisnutrition.co.za vir meer inligting of skakel 082 579 5517.