Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Genl. Viljoen ‘het met vrede in sy hart’ op plaas heengegaan

Omring deur sy vrou en die meeste van sy kinders en kleinkinders het genl. Constand Viljoen Vrydag sy laaste asem uitgeblaas.

Die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en eerste leier van die Vryheidsfront, is Vrydagmiddag omstreeks 13:00 in die ouderdom van 86 op sy plaas in Limpopo dood.

“Hy was baie rustig op die plaas . . . hy het vir seker met vrede in sy hart gegaan,” sê Petrus Viljoen, een van die oudgeneraal se seuns.

Sy pa het die plaas, naby Ohrigstad in Limpopo, op 23-jarige ouderdom gekoop. Dit was sy trots. Hy het ’n gemengde boerdery daar bedryf; beeste en saaigewasse.

“Hy het nog geboer tot op die ouderdom van 80 voordat hy heeltemal afgeskaal het,” sê Petrus.

Dit sou beslis sy pa se wens gewees het om op sy plaas te wees wanneer hy sy laaste asem uitblaas, sê Petrus.

Kort voor die staat van inperking is Viljoen na die plaas gebring, deels weens sy gesondheid wat begin agteruitgaan het. Alzheimer se siekte is ook twee jaar gelede by hom gediagnoseer.

Maar dit was die ouderdom wat uiteindelik sy tol geëis het, sê Petrus.

“Hy het gister nog rondbeweeg, maar vanoggend kon almal sien dit gaan nie goed nie.”

Volgens Petrus vind die familie ook berusting daarby dat hy op die plaas was, omring deur sy geliefdes.

Genl. Constand Viljoen, Suid-Afrikaanse militaris en politikus, is Vrydag in die ouderdom van 86 op sy plaas in Limpopo dood. Foto: Dawid Roux
Genl. Constand Viljoen. Foto: Beeld Argief

Sy vrou, Christina, alombekend as Risti, was daar, asook drie van sy vyf kinders en amper al sy kleinkinders.

Petrus self was nog in George en sy ander broer op Lephalale.

Te midde van die koronavirus-pandemie in die land sal daar vir eers net ’n klein private verassingsdiens op Ohrigstad gehou word. Later sal ’n behoorlike militêre diens gehou word, na verwagting by die Voortrekkermonument in Pretoria.

“Nie net om my pa se lewe te vier nie, maar ek glo hy sou daar saam met sy soldate wou wees,” sê Petrus.

Sy pa is veral as soldaat wyd gerespekteer.

“Hy het almal – van watter agtergrond hulle ook al mag wees – altyd met respek behandel.”

Huldeblyke en laaste eerbetoon het Vrydag van oral gekom vir die gestorwe generaal.

Dr. Pieter Groenewald, huidige leier van die VF Plus, het sy innige simpatie aan Viljoen se familie oorgedra.

“Genl. Viljoen was ’n persoon wat ’n groot en sterk stempel afgedruk het op die geskiedenis van Suid-Afrika,” sê hy in ’n verklaring.

Volgens Groenewald sal Viljoen veral onthou word as die uitmuntende soldaat én politikus wat hy was.

As soldaat was Viljoen wyd gerespekteer onder sy ondergeskiktes, en as politikus het hy ook ’n besonderse rol gespeel in die oorgangstydperk vanaf 1994, sê Groenewald.

Petrus sê die Afrikanervolk se lot het sy pa na aan die hart gelê.

“Vir hom was Afrikaner-eenheid baie belangrik en in die politiek het hy so probeer optree dat dit Afrikaner-eenheid bevorder, al was dit nie altyd maklik nie,” sê Groenewald.

Meer oor:  Limpopo  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.