Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Genoeg is genoeg, sê boer ná vuishou by grensdraad
Ludwig en Zelma Oberholzer op hul troudag. Foto: Facebook

’n Boer van Ficksburg, Frik Fouché, sê hy het nou genoeg gehad van die beweerde teistering deur sy buurman, ’n vorige deelnemer aan die TV-program Boer soek ’n vrou.

Fouché, wie se plaas aan dié van Ludwig Oberholzer grens, sê Oberholzer het glo gedurig vetes met ander inwoners in die Ficksburg-omgewing, en hy wat Fouché is, het nou genoeg gehad.

Frik Fouché sê sy buurman het hom in sy gesig geslaan en teister hom

Oberholzer, wat in 2009 aan Boer soek ’n vrou deelgeneem het, sê egter Fouché is “so mal soos ’n haas”.

“Wat wil jy hê moet ek sê, die man se eie vrou het hom dan geskiet,” sê Oberholzer.

Fouché was in 2014 in die nuus toe sy vrou, Karen, hom laatnag vir ’n inbreker aangesien het nadat hy met ’n blaasvlam die plaashuis se veiligheidsdeur probeer oopsny het.

Fouché het blykbaar sy huissleutels verloor.

Fouché, ’n vlieënier, sê Oberholzer het onlangs gevra of hy met sy perde op Fouché se aanloopbaan kan oefen.

Oberholzer neem aan perdesport deel.

“Toe ek nie wou nie, toe is hy suur vir my,” sê Fouché.

Fouché sê hy het die afgelope Saterdag met Oberholzer se broer Stefan by die grensdraad gesels.

Oberholzer het ook daar opgedaag en uit die bloute glo vir Fouché met die vuis in die gesig geslaan.

Fouché sê hy was twee jaar gelede in ’n motorongeluk en van sy nekwerwels is vergruis.

“Dokters het my gewaarsku dat ek nooit weer sal kan loop nie as ek my nek weer seermaak, en hier kom hy en slaan my in my gesig en teen my kop,” sê Fouché.

“Dis die eerste keer in my lewe dat ek ’n klag teen iemand indien, maar die man teister ons,” sê Fouché.

“My seun, Frikkie, werk deesdae in Kanada en een van die redes hoekom hy hier weg is, is omdat hy nie meer kans gesien het vir Oberholzer as buurman nie,” sê Fouché.

Hy sê hy boer al sedert 1982 op die plaas en is nie ’n man wat met sy bure moeilikheid soek nie.

Dít kan jy nie van hóm sê nie; hy soek met almal skoor, sê Fouché.

Hy het Maandag ’n klag van aanranding teen Oberholzer ingedien.

Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n klag is ingedien.

Meer oor:  Boer Soek 'N Vrou  |  Buurman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.