Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gepos deur SAUK: ‘Ons het dit glad nie sien kom’

Sy het al saam met wêreldleiers gekuier, maar nooit gedink sy sou nou hiér wees nie: Ná 35 jaar as radiojoernalis is Jenine Coetzer noodgedwonge werkloos.

Jenine Coetzer is een van 621 werknemers wat die SAUK se diens die afgelope week ná ’n afleggingsproses verlaat het. Foto: Deon Raath

Sy is een van 621 mense wat ná ’n afleggingsproses Woensdag hul laaste dag by die SAUK gewerk het.

Die SAUK noem dit ’n no fault-aflegging, maar Coetzer is nie een vir eufemismes nie. “Ons is ge-fire, man.”

Sy was tot Woensdag uitvoerende vervaardiger van Engelse aktuele sake by Channel Africa.

“Ek dink baie mense het gedink die afleggings sou mense van die Hlaudi-era, wat aangestel is met groot salarisse, raak. Baie van ons het gedink ons gaan nie geraak word nie.”

Toe, in November, kry almal by Channel Africa briewe.

Coetzer en wyle Ibrahim Dagash, AU-woordvoerder.

“Ons was stomgeslaan, heeltemal verbysterd. Ons het dit glad nie sien kom nie.

“Ons het lockdown en Covid-19 oorleef en toe kom dié goed,” sê Coetzer (63).

Op Twitter het baie mense die skuld vir die afleggings op Hlaudi Motsoeneng, voormalige SAUK-bedryfshoof, gepak.

Die radiogogga het Coetzer al in die vroeë 1980’s gebyt toe sy as Stellenbosse joernalistiekstudent by die destydse Suidwes-Afrikaanse Uitsaaikorporasie gaan prakties doen het. In 1986 het sy by die SAUK begin en in 1989 by Channel Africa, waar sy “die kontinent ontdek het”.

“Ek het nooit eers aan ’n ander werk (as radio) gedink nie, want dit is wat ek wou doen.”

In 1992 was sy die eerste joernalis wat oor ’n bomontploffing by die Randse Paasskou berig het. Nadat sy die knal gehoor het, het Coetzer dit reggekry om in ’n ambulans tot by die plek van die ontploffing te kom.

Coetzer by Muammar Gaddafi en Aziz Pahad.

In haar huis in Richmond, Johannesburg, wys sy ’n foto van haar saam met die voormalige Libiese leier Muammar Gaddafi.

In Angola het sy landmyn-oorlewendes ontmoet en gesien hoe mense wat ledemate verloor het, sokker speel.

Sy het Afrika deur die Afrika-Unie leer ken.

“Ek het baie plekke gesien wat ek nooit sou sien as dit nie vir die joernalistiek was nie.”

Sy het dikwels saam met Gift of the Givers gereis, reise wat haar hart, haar menswees geraak het.

“Wat lekker was van hierdie reise is as jy klaar gewerk het, werk jy saam met vrywilligers. Jy hou mense se hande vas en word toegelaat in teater. Baie van ons besef nie eens jy het so ’n moeder Teresa-kant nie.

“Dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers is een van die wonderlikste mense wat ek ooit ontmoet het. Ek het by hom geleer jy mag wees wie jy is.”

Coetzer raak opgewonde en begeesterd as sy oor haar werk praat, oor die goedheid wat sy in mense gesien het.

Sy blaai deur ’n album met foto’s en ’n lêer vol herinneringe met lofbriewe.

“Hier is ek saam met Aziz Pahad (voormalige adjunkminister van buitelandse sake). Hy het altyd vir my gesê ‘your outfits drive me crazy’, want dis so bónt!” sê sy laggend.

Wat sy die heel meeste gaan mis, is haar korrespondente in Afrika. “Hulle huil oor ek weggaan.”

Sy vertel hulle noem haar “Jay-ee-nine”, na aanleiding van die spelling van haar naam.

Oor ’n jaar of wat wil sy en haar man, Steve du Plessis, wat in IT werk, in hul vakansiehuis in Hermanus gaan woon.

Vir heeltemal aftree sien Coetzer nog nie kans nie.

“Eendag wil ek betrokke raak iewers waar ek mense kan mentor. Ek wil ontsettend graag by ’n charity werk.”

Meer oor:  Hlaudi Motsoeneng  |  Werkloosheid  |  Afleggings  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.