Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Leierskorps ‘soos Meyer se Bokke’

Potchefstroom. – Die leierskorps van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) is te wit en manlik.

“Dis soos Heyneke Meyer se Springbok-span: Gekleurde spelers is daar, maar haal nooit die veld nie,” het ds. Kiepie Jaftha van Bloemfontein Woensdag op die GKSA se buitengewone sinode gekla.

“Al die voorsitters en skribas van die kommissies is wit mans.

“ ’n Mens sien nêrens ’n swart broer se naam nie. Ons moet die diversiteit in ons kerk geniet en vier.”

Die enigste swart lid van die verkose moderamen, ds. Abel Modise, is al soveel keer tot adjunkskriba verkies dat hy dié amp maar permanent kan beklee, het hy gesê.

“Ek het ander goed gekwalifiseerde swart broers, maar hulle word nooit tot belangrike leiersposte verkies nie.”

Nadat Jaftha uitgevaar het, het die tweede adjunkskriba van die moderamen, ds. Carel Jansen, gesê daar is nie “belangrike poste” in die kerk nie.

“As jy verkies word, word jy verkies om te dien. Niemand is belangrik nie.”

Talle afgevaardigdes het Woensdag byna deurgaans Engels gepraat, maar ’n voorstel dat die buitengewone sinode se gebruikstaal Engels word, is afgestem.

’n Kompromisvoorstel, wat met ’n meerderheid stemme aanvaar is, is ná ure se debat agter geslote deure aanvaar.

Dit behels dat die moderamen agendapunte in Afrikaans en Engels aankondig en afgevaardigdes hul bes doen om ’n taal te praat wat almal teenwoordig verstaan.

Afgevaardigdes mag hul moedertaal gebruik, maar dan moet ’n tolk beskikbaar wees.

Van dié wat nog Afrikaans gepraat het, het vooraf versoek dat afgevaardigdes wat nie Afrikaans verstaan nie hul oorfone vir die tolkdiens gebruik.

Ten spyte hiervan het Jaftha, nadat daar oor ’n ordemosie gestem is, kapsie gemaak omdat die voorsitter van die moderamen glo nie die ordemosie in Engels gestel het nie.

Jansen het, voor Jaftha se tirade oor die rassesamestelling van die leiers, gesê enige lidmaat van die GKSA is welkom om sy dienste aan die kommissies te bied.

“Ons weet nie altyd watter gawes en talent elke lidmaat het nie. Jy kan jou dienste by ’n kommissie kom aanbied waar jy voel jy kan ’n bydrae lewer.”

  • Die buitengewone algemene sinode is belê om oor vroue in die besondere ampte (predikant en ouderling) te besluit.

Daar is eers Woensdag laatmiddag uiteindelik by dié punt uitgekom.

Die onderskeie beswaarskrifte wat handel oor vroue in die amp is na kommissies verwys wat waarskynlik vanmiddag aanbevelings aan die sinode sal doen. Dit sal dan bespreek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.