
Kallie Kriel, Monique van Oosterhout, adv. Gerrie Nel en Monique Taute op Afriforum se mediakonferensie.
Alexis Bizos, seun van die menseregteadvokaat George Bizos, gaan deur AfriForum vervolg word omdat hy sy vrou, Monique van Oosterhout, na bewering ernstig aangerand het.
AfriForum het Dinsdagoggend bekend gemaak dat adv. Gerrie Nel Bizos privaat gaan vervolg nadat Van Oosterhout op 16 Maart 2015 glo so ernstig aangerand is dat sy ses gebreekte ribbes gehad het.
Bizos en Van Oosterhout is 23 jaar getroud, maar is besig om te skei.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het op ’n mediakonferensie gesê almal is gelyk voor die reg, ongeag ’n persoon se familiebande.
“Ek dink die NVG (nasionale vervolgingsgesag) het besluit om Bizos nie te vervolg nie weens sy van en sy familiebande.”
“ ’n Mens moet onthou: Om die owerhede te nader is vir so ’n slagoffer traumaties. Die bykomende viktimisering wat deur slagoffers ervaar word, is telkemale ’n werklikheid en hang grootliks af van wie aan diens is wanneer die saak aangemeld word. Oor die algemeen kry slagoffers van geweld min empatie wanneer hulle op hul kwesbaarste is,” sê Kriel.
Nel sê AfriForum sal nou aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat (weiering om te vervolg) doen sodat Bizos privaat vervolg kan word vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Hou Netwerk24 dop vir meer inligting.