Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gesin, dorp ly onder ‘grappe’
Wessel Badenhorst, voorsitter van die Hoërskool Schweizer-Reneke se beheerliggaam, en Cornie van Staden, skoolhoof. Foto: Hendrik Hancke
Schweizer-Reneke is behoorlik bekend gemaak.

Sedert Margaret van Wyk ’n maand gelede per ongeluk ’n intieme selfie na ’n Whats­App-groep gestuur het, het sy nog nie haar plaashuis buite Schweizer-Reneke verlaat nie.

Die naaste wat sy kon kom aan die wêreld in die oë kyk, was telefoongesprekke met haar naaste vriendinne. Dit het telkens in trane geëindig, sê haar dekade lange vriendin Marisa Joubert aan Rapport. “Sy is stukkend. Veral nadat haar kinders deur gewetenlose mense in dié siek affêre betrek is.”

Gister, by een van Schweizer-Reneke se grootste sosiale gebeurtenisse vir 2016 – die eindstryd van die Beeld-rugbytrofee vir mediumskole – kon hulle Margaret die eerste keer oorreed om in die openbaar te verskyn. Haar vriende het laer getrek om haar en haar uit die sig van nuuskieriges en skinderbekke gehou.

Schweizer-Reneke se eerste span het met een punt die span van Zeerust gewen wat die gemoedstoestand op die dorp ’n hupstoot gegee het. Marisa sê ­triomfantelik die dorp is verenig in hul woede en afkeer van die klikkers wat vir eie genot die Van Wyks én die dorp verneder het.

“Almal sal hierdeur kom. As ’n gesin of ’n huwelik so iets oorleef, staan hulle waaragtig sterk.”

Die gemeenskap ken die Van Wyks goed. “Chris is hier gebore en was sy hele skoolloopbaan hier op skool,” sê Elma Botha, self ’n byna lewenslange vriendin.

Margaret het destyds as gr. 9- leerling Schweizer-Reneke toe getrek, haar trouman daar ontmoet en daar ’n gesin begin.

Dis juis die gehegtheid van dié boerderygemeenskap in Noordwes wat die verraad soveel dieper laat sny. Dit was erg genoeg dat die 17 ander hokkie-ouers in die WhatsApp-groep per ongeluk die foto gekry het.

“Sorry alma. Vekeerd gstu my man bedul sorry almal” (sic) het sy binne ’n minuut laat weet.

Die koeël was egter deur die kerk. Sy het die ongemaklike stilte probeer verbreek deur te vra: “Hi chris al gery” (sic).

Haar blaps het buite die groep versprei, maar drie weke lank was dit net ’n skinderstorie in die strate van die dorp.

Margaret het net begin dink die stof het gaan lê toe iemand ’n skermgreep van die WhatsApp-groep versprei en dit ’n internasionale internet-tergery begin het.

“Ek kry die jongste kind die jammerste. Sy is nou in matriek en besig om rekordeksamen te skryf,” sê Marisa.

“Margaret hanteer dit relatief goed.

“Haar hele gesin kry swaar, maar Margaret is die een wat die seerste gemaak is,” sê ­Elma.

En dis nie net die Van Wyks wat verniel is nie. Almal van die skool tot die dorp self was skielik die hele land se ­fotograppie.

“Vrydagaand was ons by ’n geleentheid in Pretoria en die oomblik wat mense hoor ons is van Schweizer af, wil hulle dadelik laggend weet of ons vir Margaret en Chris ken,” sê Marisa vies.

“Arme Chris is verslae. Hy het hierdie wraggies nie verdien nie,” sê Marisa. Elma voeg by: “Hy is ’n normale hardwerkende man wat lief is vir sy gesin. Niemand het die reg om hom en sy mense aan te val nie.”

Marisa sê ’n mens kan hulle in die middel van die nag wakker bel vir hulp en albei sal “net daar opstaan en vir jou Kaap toe ry as dit moet”.

Cornie van Staden, hoof van die Hoërskool Schweizer-Reneke, en ­Wessel Badenhorst, slaan ook nog vure dood. Hulle is veral omgekrap oor die stertjies wat bygekom het. Die vals “onderhoud” met Margaret wat ’n radiostasie in KwaZulu-Natal uitgesaai het, die vals klankgreep van ’n woedende Chris en die vervalste WhatsApp-skermgrepe het soos ’n veldbrand versprei. Een vals WhatsApp-gesprek, getiteld “Ouernoodvergadering”, bespreek Chris en Margaret in afgryslike detail.

“Ek ken hierdie gemeenskap baie goed en nie een van daardie name is aan my bekend nie,” sê hy nadat hy die skermgreep onder oë gehad het.

Badenhorst voel gebelg dat die skool ook hierdeur betrek is.

“Daar was vandag byvoorbeeld ’n gesprek op ’n Pretoriase radiostasie waarin die omroeper sê hierdie klink na ’n lekker skool: ’n Mens moet jou kinders daarheen stuur om te gaan hokkie speel.

“Ons is een van die sterkste hokkieskole in Noordwes, so dis reeds genoeg rede vir kinders om hier te wil hokkie speel. Hoekom hierdie nonsens daarby inbring?”

Van Staden sê daar is verskeie amptelike en nie-amptelike Whats­App-groepe by die skool.

“Hierdie spesifieke groepie is deur hokkie-ouers begin en die skool het geen beheer daaroor gehad nie.”

Meer oor:  Margaret Van Wyk  |  Whatsapp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.