Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Gesin se hartseer: ‘Hy was nie net ’n nommer, hy was ’n mens’

Anton Harman van Durban het ’n goeie, normale lewe gelei voordat hy sy stryd teen die Covid-19-virussiekte verloor het. Hy was vir byna ’n maand in die hospitaal aan ’n ventilator gekoppel.

Hy was ’n pa, ’n eggenoot en ’n besige amptenaar van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat oral in die land gereis het as opleier van operasionele spesialiste.

Sy lewe het om sy dogter, Thea, en sy vrou van 28 jaar, Tracy, gedraai.

Hulle moes toekyk hoe sy gesondheid stadig agteruitgaan terwyl masjiene hom help asemhaal het in die laaste 29 dae van sy lewe.

Anton Harman.

Die familie wil nou hê mense moet weet hoe belangrik dit is dat Covid-19-voorsorgmaatreëls streng toegepas moet word om te verhoed dat hulle dieselfde pad as Harman loop.

Dit het alles in April begin . . .

Thea het gesê haar pa het simptome op 12 April begin ervaar.

“Hy het besluit om hospitaal toe te gaan om die dokter te sien. Hy het slegs ’n koors gehad, maar ons wou veilig wees. Die dokter het gesê hy het ’n bo-lugweginfeksie en het vir hom medikasie gegee om die simptome te behandel.”

Die volgende dag, op 13 April, is Harman as voorsorgmaatreël vir die Covid-19-virussiekte getoets.

“Teen Dinsdag 14 April het ons sy uitslae gekry en hy was positief,” sê sy dogter.

Teen daardie tyd moes sy en haar ma ook getoets word en ’n week later het albei uitgevind hulle is ook positief.

Die familielede het saam in kwarantyn gegaan.

Hulle is intussen weer getoets en die uitslae was negatief.

Teen Woensdag 22 April het haar pa se toestand aansienlik verswak en is hy terug hospitaal toe.

“Hy het ’n hoë koors gehad. Ons kon aanvanklik die koors met medikasie breek, maar teen Woensdag was sy koors 39 en was sy bors ’n bietjie toe. Hy het ook baie moeg gelyk.”

Ventilator

Met hul aankoms by die hospitaal is Harman dadelik opgeneem en ’n paar uur later het die dokter Thea en haar ma laat weet dat haar pa aan ’n ventilator gekoppel is.

“Ons was in trane en baie bang. Ons het nie geweet wat om te dink nie en net besluit om elke dag te vat soos dit kom.”

Harman sou van daardie punt af aan ’n ventilator gekoppel bly vir 29 dae.

“Gedurende die 29 dae was daar tye waarin hy goed gedoen het. Hulle sou hom begin speen van die ventilator, maar hy sou ’n haakplek hê en twee treë teruggaan van die vordering wat hy gemaak het en ons sou terug wees by die beginpunt.”

Thea sê die dokters het hul beste probeer om hom by te staan.

“Hulle het na allerhande tipe behandelings gekyk en regtig alles gedoen wat hulle kon.”

Anton, Tracy and Thea Harman.
Anton, Tracy and Thea Harman.

‘Dit is tyd om hospitaal toe te kom om Anton te sien’

Die ware omkeerpunt vir die Harman-gesin was rondom 8 Mei toe sy suurstofversadiging begin verlaag het.

“Normale suurstofversadiging is tussen 90% en 100%. My pa s’n was in die hoë 70’s – dit was toe die dokters gesê het my ma behoort hom te gaan sien.”

Haar ma moet volgens haar ten volle in persoonlike beskermende toerusting (PPE) geklee wees.

“My ma kon glad nie langs sy bed gaan staan nie. Sy het hom slegs deur ’n glasvenster gesien. Sy het deur middel van ’n draagbare monitor gepraat wat hulle by sy oor gesit het. Daardie besoek was baie kortstondig. Hulle wou haar glad nie vir lank daar hê nie.”

Teen 15 Mei het sy versadiging weer gedaal en Thea se ma is teruggeroep na die hospitaal om haar pa te sien.

“Ek en my ma het hierdie keer gegaan om hom te gaan sien – in volle PPE-mondering – ná baie oorweging deur die hospitaalbestuur. Hulle was onseker dat albei van ons met hom praat.”

Die enigste kontak wat die vroue met die hoof van hul gesin gehad het, was weer deur ’n glasvenster.

Harman se toestand het vanaf 16 Mei begin verbeter, maar sy toestand het op 21 Mei begin versleg, het Thea gesê.

“Hy het eintlik regtig ’n goeie dag gehad en was stabiel. Maar toe ewe skielik rondom 19:30 het hulle gesê dit gaan weer nie so goed met hom nie. Die dokters het sowat 20 minute later gebel en gesê hulle het alles vir hom gegee wat hulle kon, maar hulle kon steeds nie ’n lesing op sy bloeddruk kry nie. Sy harttempo was taamlik laag.”

Teen 20:15 is Harman dood.

Dit was nie my pa op daardie bed nie

Thea sê sy het haar pa slegs een keer op 15 Mei gesien, maar kon steeds nie glo dit is hy nie.

“Ek kon nie sê dit was hy nie. Hy het so anders gelyk. Ek het nie gedink hy is my pa op daardie punt nie. Dit het net so surrealisties gevoel – soos dat dit nie besig was om te gebeur nie.”

Sy het haar pa as ’n liefdevolle, goedhartige man beskryf.

“In 2017 het ons albei besluit om ons regsgrade saam te doen. Ons het beplan om dit oor vyf jaar te doen. Ons het pas twee en ’n half jaar van studie saam voltooi. Ons het saam gestudeer en was daar vir mekaar. Hy was altyd daar vir ons en nou kom hy nie weer terug nie.”

‘My man was nie net nog ’n nommer nie’

Tracy sê sy wens mense wat nie die virus ernstig opneem nie, kan sien wat met haar man gebeur het.

“ ’n Masjien moes vir hom asemhaal. Die ervaring is so traumaties. Jy kan nie dink dat jy dit nié sal kry nie. Ek wil nie hê enigiemand moet ooit daardeur gaan nie.”

Sy het bygevoeg dat sy geskok was toe sy haar man in die hospitaal gesien het.

“Die hospitaal het my toegelaat om hom deur ’n monitor te sien en oor ’n foon met hom te praat. Wat ek gesien het, was nie my man nie. Ek wens die virus kan uitgeroei word. Hy was nie oud nie, hy was 54. Hulle moet verstaan hoe belangrik dit is om voorsorg te tref.”

Tracy sê daar is nie so iets soos om oorversigtig te wees nie.

“Jy behoort amper neuroties te wees. Jy moet jou masker dra. Sê vir mense om nie naby jou te kom nie. As een persoon doodgaan, is dit een te veel. Ek wil letterlik staan en skree op mense wat nie luister nie en sê luister asseblief na wat die mense vir jou sê. Jy gaan dit kry. Ek het nie gedink ons sou in ’n wêreld soos dié leef nie.”

Sy het bygevoeg dat Harman haar sielsgenoot, maat en man vir 28 jaar was.

“Die drie van ons het alles saam gedoen. Mense het altyd gesê ek verstaan nie – jy los nooit jou dogter alleen nie. Ons het saam vakansie gehou en inkopies gedoen. Die band was onbreekbaar.

“My man het oor die land heen gereis. Dit voel asof hy iewers heen is, dat hy deur die deur gaan stap.”

Tracy sê haar dogter sou gereeld die Covid-19-syfers volg.

“My dogter het altyd die Covid-19-syfers gevolg. Terwyl hy in die hospitaal was, het my dogter vir my gesê dat die syfers gestyg het. Ek het gesê jou pa is soveel meer as ’n nommer.

“Ek verstaan waarom ons die syfers moet hê, maar as mense gesigte aan die syfers koppel, sal die ding gesien word vir wat dit werklik is. My man was ’n mens. Totdat mense dit besef, sal die sterftes aanhou plaasvind.”

https://www.news24.com/SouthAfrica/News/he-was-not-just-a-number-he-was-a-person-durban-familys-heartache-after-dad-dies-of-covid-19-20200527

Meer oor:  Durban  |  Gesin  |  Hartseer  |  Korona-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.