
Deon en Chenell Bester.Foto: Chenell Bester
’n Gesin van Bellville gaan teen Woensdag geen heenkome hê nie nadat hulle hul geld kwyt is weens ’n bedrieglike advertensie vir ’n huurhuis op Gumtree.
Chenell Bester (32) en haar man, Deon (44), het Donderdag ’n deposito van R11 500 vir ’n drieslaapkamerhuis in Boston, Kaapstad, betaal.
Volgens haar het hulle die geld in die beweerde eienaar van die huis se rekening betaal en toe nie weer van haar gehoor nie.
Die gesin moet op 1 Mei uit hul huidige woning trek.
“Ek is ’n sinkende bootjie op die groot see,” sê Chenell.
Deon, ’n passer en draaier, is die enigste broodwinner. Die egpaar het drie kinders, twee seuns van tien en 13 en ’n sesjarige dogter.
Die egpaar het teen Saterdag, toe hulle reeds drie dae niks van die vrou hoor nie, besluit om ondersoek in te stel en na die huis gegaan.
“Toe ons daar kom, het die mense wat daar woon, gesê die vrou besit nie die huis nie. Hulle het gesê ek is die tweede vrou wat so ingeloop is.

’n Skermgreep van die advertensie op Gumtree.Foto: Chenell Bester
“Die beweerde eienaar wou eintlik R14 600 vir ’n deposito gehad het en ons sou haar oor drie maande afbetaal Ons sou elke maand R7 300 aan huur betaal.”
Die advertensie is ook nie meer aanlyn beskikbaar nie.
Chenell sê sy het nog nie ’n klag by die polisie ingedien nie.
“Ek weet nie of ek ’n saak moet maak nie, want ek het nie geld vir ’n prokureur nie.”
Sy het haar tot Facebook gewend om hulp te vra.
“Ek is nie iemand wat my lewe op Facebook plaas nie. Maar ek het gedink dalk sien iemand dit wat my kan help om die vrou te soek.”
Volgens haar het sewe mense haar al gekontak om na die vrou te help soek en drie mense het al gehelp om vir die gesin ’n ander huis te soek.